tabula raza
die kraaie die draai om die reste
van ver vergete reisigers
wat eindelose paaie deurkruis
soekend na die klatergoud
en die jaarringe van die hout
verraai so die kraak in die onewe
onverganklikheid.
die witkalk kaats somber replikas opwaarts
spore erodeer deur die gange van die eeue
geen grafte, geen groeiende blare,
geen verblindende beendere,
geen artefakse, geen ars poetica’s
en geen gloeiende beskawings
is opgraafbaar en
sal argeoloë interesseer.
die nanag artikuleer die maanlig se eliptiese bane
eenvoudige en stille verlatenheid hang oor die koppe
alles is so botstil en so spookagtig
‘n soort stilte stiller as die doodstilte sonder
‘n geluid
geen spoor van ‘n bygeloof word sigbaar gelaat
net op die horison
net die eindige son
wat eendag
spoorloos gaan verdwyn
ons almal se gelate is soos die van gaipe
verlate en verdonkerde deelnemers aan die
eindigheid wat nooit ophou vir die wat gebore sal
word nie.
soos die kraaie wat draai om die braak
Here, waarom het u ons verlaat!
No comments:
Post a Comment