Sunday 22 November 2015

OORDENKING: PSALM 8: GODDELIKE STERREKUNDE


 
 

                                      PSALM 8

                                     GODDELIKE STERREKUNDE

       “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers…” Psalm 8: 4

Sterrekunde is die wetenskap om die buitenste ruimte te bestudeer.  Dit ‘n ingewikkelde wetenskap, want ons weet nog so min: ons instrumente kan eenvoudig nie die grootsheid van die heelal meet nie. Maar dit is ‘n wetenskap wat, soos bykans alle teoretiese studies, die verlede

nie kan ignoreer nie. Die Hubble-teleskoop stuur seine en foto’s terug  van hemelruimgebeurtenisse van miljoene jare gelede.

Psalm 8 gee vir ons die Bybelse sterrekunde: dié wetenskap wat na die oorsprong wys: “As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het…’’ (Psalm 8:4.) God het alles geskape, getuig die Bybel.  Maar die Bybel sou vir ons ‘n geslote boek gewees het as ons nie vir Jesus Christus geken het nie. Sonder Jesus Christus sou ons nie eens geweet het wie alles geskape het nie. Ons sou moontlik soos die ou Egiptenare die son aanbid het, soos die ander heidense volke, van weleer, die maan of diere soos die beeste in Indië. Dus het Christus ons visie so vergroot dat ons weet dat Iemand baie groter as ons die hemelruim besit en bestuur: dat God alles gemaak het. Dit kan net ‘n Almagtige God wees wat so iets soos die hemelruim kon skep. “Ek is God die Almagtige” (Genesis 17:1).

Hierdie wete-- God, die sterre-skepper, is ook ons Vader--gee aan ons die grootste veiligheid ooit.

 

 

GEBED

Here Jesus, U het eens by ons bekering die skille van ons oë laat afval. Nou weet ons dat u Vader alles geskape het. Vir dié wete loof en dank ons U..

 

VRAE

1.      Watter persoonlike troos kry ons uit hierdie Psalm? Gee besonderhede?

2.      Hoe moet ons oor God se skepping heers soos Psalm 8:7 sê?

No comments:

Post a Comment