Monday 23 November 2015

OORDENKING: PSALM 12


                                                          PSALM 12.

                                            ONREGVERDIGHEID BLY NIE STAAN.

                                          “U, Here, hou oor ons wag.” Psalm 12:8

Onregverdigheid knaag aan ons. As iemand ons te na gekom het, ons menswees aangetas en ons vals beskuldig het , kan ons dit nie maklik vergeet nie. Gewone skinder is nog hanteerbaar. ‘n Mens kan negatiewe praatjies doodleef. Maar wanneer iemand ons minag, word ons woedend. As iemand ons hanteer asof ons dom is, van ‘n swakker klas is en  ‘n miderwaardige werk doen, word ons gebelgd.

Saam met die Psalmis het  ons ‘n afkeer aan valse mense: mense wat skynheilig is. Onegtheid kan niemand wegsteek nie: selfs die eenvoudigstes onder ons kom dit agter en sien dwarsdeur diesulkes. Onegtheid en onregverdigheid loop soms hand aan hand. By die werk kan ons onmiddellike hoof ons prys, maar agteraf ‘n swak verslag oor ons indien. Een of ander tyd sal ons dit te hore kom , soos wanneer ons nie die swaar verdiende bevordering kry nie. Dan wil ons wraak neem: ons wil die een wat ons te na gekom het, verkla oor die ongerymdhede waaraan hy hom skuldig gemaak het.

Voordat ons dit doen, luister na die Bybel: “ Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God.” (Romeine 12:19). Dit is moeilik om nie wraak te neem nie, want die wrok sit diep binne- in ons. Ons voel so verneder en magteloos.

Bid ernstig tot God om die bevryding van wraakgevoelens, maar ook dat regverdigheid sal sëevier.

 

GEBED

Here, ons is woedend oor die onregverdige behandeling by die werk, maar ook op ander plekke waarin ons ons bevind. Help ons om nie wraak te neem nie. Gee ons die geduld om op u regverdige optrede te wag.

 

VRAE

1.      Hoe beskerm die Here God ons teen gemeenheid?

2.      Wat moet ons, afgesien van gebed, doen om nie wraak te neem nie?

 

 

 

 

 

 

No comments:

Post a Comment