Wednesday 31 August 2016

GEMEENTELIKE GROEI.


Dink julle gewone gemeentes kan/gaan groei?

Groei in geestelike gehalte, en in getalle en in geestelike genot.

Thursday 18 August 2016

HUISBESOEK IS DIE ANTWOORD OP SWAK KERKBYWONING EN KERKBETROKKENHEID.


HUISBESOEK IS DIE ANTWOORD OP SWAK KERKBYWONING EN KERKBETROKKENHEID.

Die vraag is: waarom is kerkbywoning en kerkbetrokkenheid nie na wense nie? Hierdie vraag is al in ons studentejare in die 70’s op Fakulteit behandel. In Diakonologie of Praktiese Teologie het prof. Bethel Muller die “mens in die stad” met ons behandel. Nederlandse Boeke soos: “wat vind uw van het kerkdienst” en andere is behandel. Een saak was duidelik: kerkbywoning en betrokkenheid in Europa en ook in SA was aan die taan. En wat is die antwoord?  Destyds is gesê dat die preke aktueel moet wees. ‘n Tweede antwoord was dat Huisbesoek kardinaal belangrik is. Prof Bethel het toe gesê dat die NG Kerk in die depressiejare behoue gebly het, omdat die predikante huisbesoek gedoen het en selfs onder sinkplate ingekruip het om lidmate te besoek. So persoonlike kontak tussen Predikant en Lidmaat is kardinaal belangrik. In my eerste gemeente was daar ‘n kollega wat gesê het: “’n Predikant kan swak preek, maar as hy huisbesoek doen, kom die lidmate kerk toe ten spyte van swak preke.” ‘n Ander Professor aan ‘n ander Ander Universiteit het gesê dat as ‘n dominee huisbesoek doen dan kry hy darem ‘n “ pay back”  besoek Sondae. Hierdie argumente is betwisbaar, maar een ding is seker: huisbesoek is kardinaal belangrik, omdat persoonlike kontak tussen Predikant en Lidmaat  wedersyds goed is. Hoe kan jy aktueel preek as jy nie die lidmate se nood, vreugde en wense nie ken nie? Hoe kan lidmate ‘n Predikant met hulle probleme vertrou as die Predikant  ‘n vreemdeling is? Menslike kontak in ons tegnologiese eeu kan nie net op Facebook plaasvind nie. Dus huisbesoek is een kardinaal belangrike antwoord op swak kerkbywoning.

Saturday 13 August 2016

BRING DIE TOGA TERUG.


BRING DIE TOGA TERUG. Ons behoort na die Regsgeleerdes te kyk om wysheid te bekom. As adv. Gerrie Nel of Adv. Barry Roux in die hof optree, het hulle hulle toga’s aan. Die toga’s word nie net om tradisionele redes gedra nie, maar herinner hulle dat hulle in diens staan van die geregtigheidsbeginsel. Dit plaas hulle net in ‘n klas van hulle eie aard. Dit is tyd dat die Kerk weer besin oor die Predikante en hulle toga-drag. Ons is nie so verhewe of sakraal dat ons nie van ander beroepe kan leer nie. Die argument ten gunste van die toga is: as ‘n Predikant sy toga aantrek behoort dit hom of haar daaraan te herinner dat hy of sy in diens van die Woord staan. Die toga is gewone materiaal, en is nie ‘n heilige kleed nie. Dit is nodig dat as ons telkemale die toga aantrek dat ons herinner sal word dat ons besig is met ons eie aard as predikant naamlik Woord-bedienaars. Regsgeleerdes vertolk die wet, al is dit hoe gebrekkig opgestel, en deur die Parlement goedgekeur, om daaruit hulle beredeneringe te doen. Hulle ignoreer nie die wet nie al verskil hulle oor die inhoud daarvan. In die ou-bedeling moes regsgeleerdes soos adv. Percy Jutar in die Rivonia-saak die wet oor hoogverraad namens die Staat vertolk al het hy moontlik nie daarmee saamgestem nie. Ons, Predikante, se probleem is ons is te slim. Ons hou ons nie by die Woord nie. Ons is baie kere narre en dan swak narre daarby. As ons nie impuls kontrole toepas nie raak ons banaal op die kansel. Die vraag is, is dit nie tyd dat ons die toga terugbring nie?  Is dit nie tyd dat ons weereens herinner behoort te word dat ons met die WOORD besig is nie?   

Friday 12 August 2016

DONALD TRUMP.


Is Donald Trump ‘n onortodokse politikus? Het hy nie impuls-kontrole nie?  Is hy ‘n veiligheidrisiko vir die VSA? Maw sal hy op die ingewing van die oomblik ‘n kernoorlog begin? Is hy ‘n strateeg? Lees hy sy gehoor van 20 000 mense en sê op daardie oomblik as hy hulle sien: Obama en Clinton is die stigters van Isis? Is hy ‘n “comic”? Is hy ‘n onverantwoordelike demagoog?  Die interessante vrae is oa bespreek op CNN, gisteraand, wat oor die verkiesing in Amerika aan die gang is. Een van paneel-lede assosieër Trump met Barry Goldwater wat in 1964 teen Lynden B Johnson vir die President van VSA gestaan het. Barry Goldwater is destyds ook as ‘n veiligheidrisiko bestempel wat die VSA in ‘n kernoorlog kon dompel. Hy het as konserwatief sleg gevaar by die stembus. Hy het verloor.

Maar ons in SA het in 1964 al ons hoop op Barry Goldwater gestel om ons benarde internasionale situasie te beredder. Ek kan nog onthou hoe AM van  Schoor, die vriendelike oom met die strikdassie, vorige redakteur van die Vaderland, ons oor die SAUK se radiodiens, optimisties gestem het. Kyk ons het nie gehoor van die gevaar wat Barry Goldwater ingehou het nie, maar die inligting wat ons oor die radio ontvang het, het ons valslik laat glo dat hy sou in die VN sanksies teen SA veto. Hoe dit sy, senator AM van Schoor, het sy praatjie, Wêreldgebeure, om 8nm oor die radio afgesluit met ‘n formidabele: Goeienag. Hy moes by geleentheid ‘n studentegehoor op Stellenbosch toespreek. Toe hy opstaan om te praat, het die gehoor gesê: goeienag.  Ek weet nie of hy sy praatjie kon voltooi nie. Hy was ‘n kleurryke figuur binne ‘n segment van die SA politiek van die verlede.   

Wednesday 10 August 2016

VROUEDAG EN VROUE IN AMPTE VAN NG KERK


Ons binne die NG Kerk behoort op Vrouedag uiters dankbaar te wees vir dames met styl en dinamiek. Vroue speel sleutelrolle om die NG Kerk as instituut en sy geloofsbasis staande te hou. Die afgelope tyd het ek in ‘n paar gemeentes die verblydende ervaring gehad waar vroue dominee’s en skriba’s uiters waardevolle diens lewer. Hulle neem konstruktiewe en denkende leiding wat hoop gee vir die toekoms. Die vroue skriba’s lewer ‘n kardinale belangrike rol in die verband. In gemeentes met uitdagende omstandighede is hulle op hull epos. Eredienste en die Administrasie is van hoogstaande gehalte. In koue en ongure weer is hulle daar. Ons is uiters bevoorreg. Ander kerke dink nog oor die rol van die vrou in die kerk, maar ons weet alreeds in Christus is ons een. Die kerk kan gerus ‘n vrou as die algemene sinode se voorsitter of “moderator” kies. Moontlik sal ons dan wegkom van issues en ons op die Vreugdevolle tyding toespits.

 

Monday 1 August 2016

JOAN HAMBIDGE BY BSV OP 20 AUGUSTUS 2016.


JOAN HAMBIDGE BY BSV OP 20 AUGUSTUS 2016.

http://www.seker.co.za/NewsArchive.aspx