Wednesday 25 November 2015

OORDENKING: PSALM16.


                                                                 PSALM 16

                                                             SY SKOONHEID

                                    “Uit u hand kom net wat mooi is.”  Psalm 16:11

Die Bybel is vol daarvan. Alles wat goed is, kom van God af. God is nie die oorsaak van die sonde nie. Hy is die Heilige. “Ek is die Here julle God. Wy julle aan my diens en wees heilig, want  ek is heilig.” (Lev. 11:44).  Maar ons heilige God is liefdevol:  “God is liefde.. “ (1 Johannes 4:8). Dit beteken: ons kan sonder vrees na Hom toe gaan. Hy is ons goedgesind. Hy het al ons onheiligheid deur Jesus Christus vergewe. Die dag toe ons tot bekering gekom het, het sy vergifnis ingetree en sy veroordeling verdwyn: “Wie in Hom (Jesus) glo, word nie veroordeel nie.” (Johannes 3:18). In sy goedgesindheid  lewe ons vry van die vloek op die sonde: lewe ons lig,  sonder swaar gewigte in ons gemoed.

God het ‘n nuwe atmosfeer geskep: Nou kan ons in vryheid Hom alle eer en dank toebring: nou kan ons saam met die Psalmis uitroep: “Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af.” (Psalm 16:5). In ons het ‘n nuwe bestaan aangebreek. Ons kyk met ander oë na ons omgewing en na ons naaste. Moontlik sien ons vir die eerste keer die skoonheid  van God se skepping raak.

Kom ons begin getuig van God se goedheid, sy sorg, sy hulp en sy sëen. “En julle moet getuig, want julle is van die begin af by My.” (Johannes 15:27).

 

GEBED

Goeie God, vir die eerste keer sien ons die skoonheid van die lewe raak. Gee aan ons die moed om van u goedheid te getuig.

 

VRAE

1.      Van watter Goddelike sorg  praat Psalm 16?

2.      Wie of wat verhoed sonde struikeling? Wat behoort ons prakties te doen? 

No comments:

Post a Comment