Wednesday 18 November 2015

PSALM 2: NUWE TESTAMENTIES VERTOLK.


PSALM 2: NUWE TESTAMENTIES VERTOLK.

GOD LAG

1. Here waarom het die wêreld gek geword?

ons is bang vir oorloë,

en gerugte van oorloë:

die onheil pak ons behoorlik beet.

2.      Die wêreldleiers wil nie na U luister nie, want hulle verwerp U gebod, daarom sê hulle:

3.      “Kom ons maak net soos ons wil,  want nou is ons die baas.”

4.      God, U is verbaas oor hierdie dwaasheid,  omdat hulle die dood bo die lewe verkies.

5. U nooi hulle nogtans liefdevol uit om by U Koninkryk aan te sluit.

6. U het U seun, Jesus, op Golgota sigbaar as Koning gekroon, alhoewel hy Koning van ewig reeds daar is.

Hy heers oor die ganse aarde.

7. Reeds by die doop, daar in die Jordaan, het U gesê:

“My Seun, het vlees geword

en die Gees leef in Hom:

luister na Hom:

Sy Koninkryk bring nuwe hoop hoe om reg te lewe.

8. Hy het na sy eiendom gekom,

om oor almal regverdig te regeer,

sodat daar blydskap kan kom oor die hele aarde.

9. Maar eers by die wederkoms

sal daar ‘n volmaakte vrede aanbreek.”

10. Intussen: wees wys regeerders

en aanvaar Sy koningskap.

11. Regeerders van die wêreld

lees die tekens van die tye:

Jesus Christus se regering is reeds van krag,

daarom erken dat Hy Koning is:

12. gehoorsaam die Gestuurde van God,

want hierdie wêreld smag na volwasse leiers

wat met regverdigheid

sal regeer.

No comments:

Post a Comment