Tuesday 24 November 2015

PSALM 15: OORDENKING.


PSALM 15


                                                     GOD IS IN ONS.

                           “Wie het die reg om in u woonplek te kom, Here?” Psalm 15:1

Kinders van God is uiters bevoorreg. ‘n Wonderwerk het plaasgevind: God woon nie meer net op die berg Sion nie, maar nou in ons. Sy Heilige Gees is nou binne- in ons: “Bewaar dit deur die Heilige Gees wat in ons woon. “ (2 Tim. 1: 14). Christus Jesus het die inwoning van die derde persoon van die Drie-Eenheid in ons moontlik gemaak. Met sy sterwe aan die kruis het die Tempel se middelmuur van skeiding tussen God en mens geskeur en is Hy by en in ons.

Ons is uiters begenadig, want nou hoef ons nie op te klim na die berg Sion nie: God is in ons. In Psalm 15 vers 2 word die volgende vereiste gestel voordat enigeen na God kan gaan: “Hy wat onberispelik wandel en doen wat reg  is…”  As ons as sondaars ons hieraan moes meet, skiet ons ver te kort. Dit beteken dat ons nooit na God sou kon gaan nie. Maar Christus het ons van die toegangsrëels tot God kom bevry: sy Gees is in ons.

Hierdie  genade dat sy Gees in ons is, behoort ons te motiveer om sy Gees in ons te koester: om toe te laat dat die Gees ons gees bevrug met die godsaligheid: dat ons vrugte sal dra wat by die bekering pas. Die Bybel sê immers: Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens.” (2 Kor. 5:17)

 

GEBED

Ons loof en prys U, liewe God, dat U in ons woon. Gee dat ons die vrugte van die Heilige Gees daagliks sal vertoon.

 

VRAE.

1.      Wat het die ou verbondsvolk gedoen om aan die vereistes van Psalm 15 te voldoen?

2.      Watter rol het die priesters gespeel om die toegang na God te bewerkstellig? 

 

 

No comments:

Post a Comment