PSALM 22
VERLATE
“My God, my God, waarom
het U my verlaat ….. ? Psalm 22:2
Om twaalfuur het die hele Palestina
donker geword. Jesus was aan die kruis. Hy het uitgeroep: “Eli, Eli, lemá
sabagtani?” (Matteus 27: 45). Dit beteken: “My God, my God, waarom het U my
verlaat?.” (Psalm 22:2). Jesus het Psalm 22:2 aangehaal toe Hy gesterf het. Jesus Christus was verlate. So ‘n verlatenheid is
onvoorstelbaar. Niemand van ons was al ooit só alleen nie. Hierdie verlatenheid
was daardie oomblik toe Christus die vloek van die sonde namens die ganse
menslike geslag moes dra.
Genadiglik het Jesus dié prys vir ons
betaal. Genoegsame dank hiervoor kan ons nie na behore aan God bring nie. Tog
voel ons dikwels verlate. Soms is dit net ‘n verlatenheidsgevoel, ander kere
kom dit as ons deur ander mense swak behandel word. In ‘n tyd van ernstige
siekte, kinder-, en ouerprobleme, sowel as in enige ander moeilikheid, voel ons
verstote en alleen gelaat: sonder God of iemand anders se hulp. Partykeer word
die lewe te veel om te dra. Dan voel asof ons op ‘n eiland is; ver van alles en
almal.
Wat moet ons doen? Onthou wat God gesê
het: “God self het gesê: ‘Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek
laat nie.” (Hebreërs 13:5). Hou vas aan dié woorde en bid in daardie oomblikke
van verlatenheid soos nog nooit tevore nie. Hy is by ons, sê Hyself. Hy is in ons. Sy Gees is in ons.
GEBED
Ons Vader, dikwels voel ons van U en
ons medemens afgesonder en verlate. Dit is vreeslik om alleen in moeilike
omstandighede te wees. Gee bomenslike krag om te bly glo dat U steeds by
ons in donker dae is.
VRAE
1. Was
daar spesifieke tye wat die Psalmis van Psalm 22 verlate gevoel het? Waarom sou
u so sê?
2. Wat het die Psalmis gedoen om sy verlatenheid
aan te spreek?
No comments:
Post a Comment