Thursday 26 November 2015

OORDENKING: PSALM 20


PSALM 20

                                                                 GEBEDE

                                                    “Mag die Here u gebed verhoor… “ Psalm 20:2

Opregte christene wil graag bid. Daar is verskillende redes waarom ons wil bid. Sommige van ons het ‘n brandende behoefte om met God in aanraking te kom. Ons sonder ons af: ons word stil. Ons het ‘n spesiale gebedshouding; ons wag vir God om met ons te praat soos met Elia: “Daar (is) ‘n fluistering in die windstilte..” (1 Konings 19:12) Hierdie tere ontmoeting is beslis vir baie die hoogtepunt van hulle geestelike lewe. Vir ander is lofprysing ‘n moet. Hulle sal met oorgawe aan God al die eer deur sang en gebed bring. Menige gelowiges het ook ‘n sterk gevoel om in gemeenskaplike gebed saam met ander wedergeborenes te verkeer.

Vir ander is gebed noodsaaklik, want hulle aanbid God as die Voorsiener vir hulle daaglikse behoeftes. Hulle hou huisgodsdiens,  bid voor etes,  leer hulle kinders en kleinkinders om te bid en  vra die Here om sy beskerming en sëen op hulle lewens. So bid die boere tot die Here om sy sëen en rëen op hulle boerdery. Sommige van ons bid as die probleme druk. Dan bid ons kort skietgebede: ons smeek die Here om uitkoms in moeilike situasies.

Gelowiges het verskillende gebedstyle en redes waarom hulle bid. Maar dit  maak nie saak hoe ons bid,  wat ons bid en waarom ons bid nie.  Een ding is seker: ons mag bid soos die Gees ons lei, want die Bybel sê: ”Bid sonder ophou.” (1 Tessalonisense 5:17). 

 

GEBED

Here Jesus, ons aanbid U net soos ons is. Ons weet u aanvaar ons met ons hele geskiedenis. Gee ons verdraagsaamheid jeens mekaar, sodat ons andere se gebedstyle sal eerbiedig.

 

VRAE

1.      Wat staan daar in Psalm 20 wat ons moed gee in verband met gebedsverhoring?

2.      Op wie of wat moet ons vertrou as ons bid? Waarom doen ons dit nie?

 

No comments:

Post a Comment