Monday 30 November 2015

OORDENKING: PSALM 23


                                                               PSALM 23

                                                      HERDERLIKE ENERGIE.

                                                       “Hy gee my nuwe krag.”  Psalm 23:3.

Energie speel ‘n baie belangrike rol. Sonder persoonlike lewenslus sou ons nie behoorlik kon funksioneer nie: sou ons tam en lam gewees het, sou ons nie kon werk of presteer nie. Lusteloosheid word deur baie dinge veroorsaak. Emosionele uitputting tap ons energie. As ons baie dink, verbruik ons brein byna tagtig persent van ons stamina. Probleme vreet ons krag op: dit is een van die mees energietappende gebeurtenisse. As ons depressief is, is ons kragteloos: dan wil ons net sit, omdat ons moeg is. As ons ernstig siek is, is ons vir niks lus nie. As ons ‘n dierbare deur die dood verloor het, voel ons ellendig en moeg.

Baie van ons voel sonder lewenslus en sonder God. Hoe kan God vir ons lief wees as ons swakkelinge is? Kyk na Dawid van die Bybel en skep moed.

God het Dawid, ‘n sondaar, toegelaat om Psalm 23 te skryf. Die sonde het hom uitgeput: nogtans  het die Here hom gelei na die rus in groen weivelde en het Hy vir Dawid by die waters van vrede gebring. Daarom het Dawid gesê: “Hy gee my nuwe krag.” (23:3).

Jesus Christus is ons goeie herder: “Ek is die goeie herder.” (Johannes 10: 11). Ons Herder nooi ons uit om met Hom te praat as ons lusteloos is: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is,  en Ek sal julle rus gee “(Mat 11:28).

 

GEBED

Ons Vader, ons wil ons moegheid kom bely. Here, ons het so baie probleme wat ons energie verbruik. Ons bid om nuwe krag.

 

VRAE

1.      Psalm 23 beskryf God as ‘n herder, maar in dié Psalm is daar ‘n versluierde ander beeld waarmee die Here voorgestel word. Watter beeld is dit?

2.      Met watter gesindheid ontvang God ons, sy  eregaste? 

 

                                                   

 

 

No comments:

Post a Comment