Wednesday 25 November 2015

PSALM 10 NUWE TESTAMENTIES VERTOLK.


PSALM 10

GOD IS BARMHARTIG.

1. Waarom is U, Jesus, so afsydig?

Waarom  is U afwesig in my nood?

2. Die godlosses se grootheidswaan loop dik in hulle are,

hulle verniel en vernietig ‘n hulpelose mens.

Wraakgedagtes en aksies help nie,

want U het gesê dat die wraak God toekom.

3. Ten spyte van my aanvaarding dat U,

Jesus, alle mag in die hemel en op die aarde het,

weet ek dat hierdie gewetenloses ‘n obsessie met die geldgod het,

want hulle maak hoopvolle berekeninge,

en werk strategië uit om meer en meer te in. 

Hulle is grensloos hebsugtig,

hulle uitoorlê mekaar om elke hoek en draai.

In hulle dwase selfspraak wens hulle hulleself by voorbaat geluk met hulle suksesse.

U, Here Jesus, word beslis nie geag nie.

4.In hulle selfwaan, sê hulle:

“God se wet is soos ‘n neus van was

jy draai dit net soos jy wil.”

‘n Gewetenlose neem God geensins in ag wanneer hy geslepe is nie.

5. Hulle werk lustige planne uit hoe om my uit te buit.

Hulle lag selfvoldaan, want hulle dink dat hulle alreeds wins behaal het..

Hulle lyk so gelukkig en hulle prys hulleself as baie suksesvol.

6. Hulle dink: ons sal nooit misluk nie,

en geen agteruitgang is moontlik nie.

7. Hulle blameer andere vir die geringste probleme wat opduik,

hulle gaan voort om bose planne te smee,

want hulle beplan onwenslike dinge teen my.

8. Skokwekkende dinge word beplan

wat niemand, as hulle dit hoor, sal dit glo nie. 

9. Die papierleeu word ingespan om my vas te trek,

teken net hier en teken net daar dan is ons vriende, sê die geslepenes.

So wil hulle my heelhuids verslind,

10. sonder om ‘n oog te knip,

en dit sal my einde beteken.

11. Hulle bly glo: God kyk ander pad,

as Hy wel bestaan,

en waarom sal hulle, hulle buitendien aan Hom steur as Hy daar is.

12. Here Jesus, ek beroep my op U almag wat U aan die kruis en in die graf getoon het.

Opgestane Heiland ek is hulpeloos en alleen.

Ek weet egter: U is beslis nie onbetrokke by my nie.

13. Hoe kan die godlosses dit waag om U, Vleesgeworde Woord, te verag?

en dan te kan bly glo dat hulle skotvry daarvan sal afkom,

net hulle weet hoe dié dwaasheid kan slaag.

14. Van die begin af is U daar, en sien U alles,

U sien die onreg wat teen mense gepleeg word

veral die wat marginaliseer word,

en ander wie se menswaardigheid aangetas is.

U is besig om algaande hierdie kwaad

uit die gemeenskap te verwyder.

15. Jesus, U is soos die Barmhartige Samaritaan:

U verbind die etterige wonde van die slagoffers:

U verander die lot van die weeskinders:

U verskaf voedsel aan alle hongeres.

16. Die Koning van die Koninkryk het ongekende mag,

daarom sal reg en geregtigheid seëvier.

17. Ek loof U vir U liefdevolle regering, Here Jesus!

U is Koning van alle ewigheid.

U wil geen sondaar laat verlore gaan,

maar eerder hulle bekering bewerkstellig,

U gee insig en verandering,

wat U Gees sonder uitsondering, aan elkeen wil skenk.

18. Here Jesus, aan die kruis het U uitgeroep:

“Vader, vergewe die misdadiger hier langs my,

vergewe elkeen wat my onskuldig kruisig,

vergewe elke sondaar,

elke godelose wat hom tot my keer.”  

Jesus, nou het ek goeie moed,

want ek het vriend en vyand,

se kwaad, teen my vergewe.

Daar is niks en niemand meer om te vrees nie.  

 

No comments:

Post a Comment