Sunday 3 January 2016

PSALM 73: OORDENKING.


 

 

        PSALM 73: OORDENKING.

                                                        VERBITTERD

               “Toe ek verbitter was en verontreg gevoel het”    Psalm 73:21

Die skrywer van Psalm 73 kon dit nie verstaan waarom die goddeloses voorspoedig is nie. Hierdie onregverdiges se welvaart het die Psalmis geestelik ontwrig: “Ek het byna koers verloor, want ek het die hooghartige goddeloses met afguns bejëen toe ek hulle voorspoed sien.” (Psalm 73: 2 en 3). Hy kon hulle hooghartigheid, laster teen die hemel en beledigings moeilik met hulle welvaart in verband bring. Vir hom was welvaart net bedoel vir diegene wat ‘n rein hart gehad en regverdig gelewe het. Dit beteken: die opregte gelowiges wat met God ‘n waterpas verhouding gehad het, het vir voorspoed gekwalifiseer. In die praktyk het dit nie so gewerk nie. Die opregtes is verontreg terwyl die goddeloses geil geleef het. Hy het verbitterd geword. Sy verbittering het ná verontregting ingetree. Sy gevolgtrekking was: “Ek was dom en sonder insig; soos ‘n redelose dier het ek my teenoor U gedra.” (Psalm 73:22).

Dié belydenis van die Psalmis het ‘n persoonlike boodskap vir ons. Verbittering is soos ‘n gifwortel wat diep in ons gewortel is. Op ‘n dag skiet dit op en die smaak daarvan is letterlik bitter. Dié gif is emosioneel destruktief. Net soos sommige mense se gedrag dom en sonder insig is, kan ons dieselfde fout maak as verbittering oorneem. Ons mag dit nie ignoreer nie. Ons moet ‘n kostruktiewe besluit neem. Soek die Koninkryk van God in Jesus Christus en wag geduldig, want   Hy sal ons sëen.

 

GEBED.

Hemelse Vader, as ons die voorspoed van al die ongelowiges sien, is ons in ons gees ontwrig: ons kan dit nie verstaan nie. Help ons, Here Jesus , om u Koninkryk daadwerklik te soek en nie verbitterd te word nie.

 

VRAE.

1.      Watter kwaad wat binne-in die goddeloses was, het die Psalmis van Psalm  73 die meeste gegrief?

2.      Sal die onregverdiges tot in alle ewigheid voorspoedig wees? Wat sal met hulle gebeur?  

No comments:

Post a Comment