Thursday 21 January 2016

PSALM 150: OORDENKING


                                                            PSALM 150

                                                            JUBELLIED.

                                      “Prys Hom met die ramshoring.” Psalm 150:3

Ons kan sê: van die simboliese koor in Psalm 148 na die simboliese orkes in Psalm 150. In Psalm 150 word ‘n orkes saamgestel wat bestaan het uit die ramshoring, die harp, die lier, die tamboeryn, snaarinstrumente, fluite, simbale en galmende simbale. Die spelers van  hierdie instrumente het ‘n simboliese musiekbladteks ontvang. Die bladteks bevat die werk van die grootste komponis ooit: God self. Die dirigent is God self. Die werk wat uitgevoer moet word, is: “Prys God in sy heiligdom.” (Psalm 150:1). Die eerste bevoorregte orkeslede was die Israeliete. God het sy orkes gedirigeer na aanleiding van die bladteks, naamlik die getuienisse wat die profete, die wet, die konings en die rigters gelewer het. Die volk Israel het die musiek op die verskillende instrumente uitvoer deur hulle gehoorsamheid aan God se wet. Soms het hierdie orkes  soms volmaak gespeel. God het hulle gesëen in ‘n land van melk en heuning. Ander kere het  vals akkoorde deur hulle ongehoorsame gedrag opgeklink. Wanneer die Israeliete ongehoorsaam was, het God sy profete gestuur om hulle instrumente weer reg in te stel. Ná heroorgawe aan God het die mooiste musiek weer opgeklink.

Ons is net so bevoorreg, want die Here Jesus het ons deel van God se orkes gemaak.  Die dag toe ons tot bekering gekom het, het ons deel van God se orkes geword. Kyk mooi na die bladteks, God se Woord.  Speel nootvas, voluit en end-uit.

 

GEBED

Here God, ons loof en prys u wonderlike Naam, want U het ons deel van u aardse orkes gemaak. Dankie vir die bloed van Jesus Christus wat ons toegang gee tot U orkes. Gee ons die regte Woordkennis om die korrekte lewensnote te speel, Here.

 

VRAE:

1.      Waar is God se heiligdom vandag?

2.      Hoe speel ons  “nootvas” in ons persoonlike lewe?  Motiveer.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

No comments:

Post a Comment