Tuesday 5 January 2016

MATRIEK UITSLAE.


MATRIEK UITSLAE

In Suid Afrika is die matriek-uitslae in die nuus. Dit is persoonlik sowel as van nasionale belang. Kinders wat goed presteer het, ontvang beurse, en is in die nuus. Die gebruiklike vraag aan hulle is: hoe het julle dit reggekry? Die verwagte antwoord is: harde werk en die Here se hulp is die faktore wat dit bewerkstellig het. Die Minister van basiese onderwys word op nasionale vlak gewoonlik gekritiseer oor die dalende slaagsyfers ens. Maar daar is ook ‘n anderkant: ja, daar is ruimte vir verbetering, maar daar is skole omgewings geskep waarin voortreflike prestasies behaal is. So gee aan haar erkening, maar ook konstruktiewe kritiek vir verbetering.

Ons moet Matriek uitslae onderskeidend be-oordeel: dit is van temporele belang, maar is nie vanselsprekend van kardinale belang vir die matrikulante nie. Dit is tydelik van ontsettende belang, want die leerder sluit sy skoolloopbaan af en sonder ‘n matrieksertifikaat is verdere studie en werkmoontlikhede baie skraal. Dit is egter nie van kardinale belang vir die lewe vorentoe nie. Baie matriek sterre het in die lewe net verskiet en is daar nooit weer van hulle gehoor nie. Sommige sterre het wel, terwyl die vaal uitslae ouens baie keer toppresteerders in die lewe geword het. Dus is matriek uitslae van temporele belang, maar dit waarborg nie ‘n blink toekoms nie. Die hef aan bly vir elke leerder afgesien van sy matriek prestasie.

In my tyd, lank, lank gelede was die uitslae hoog op my agenda. In die begin 60’s van die vorige eeu het ons in die Vrystaat ons uitslae by die Provinsiale gebou agter die standbeeld van Pres. Jan Brand gaan afhaal. Die uitslae is in die Offisiele Koerant gepubliseer. Ek was gespanne, omdat ek deur die jaar op die omtrek van die skool besig was en nie op die essensiĆ«le, naamlik die leerinhoud nie. Ek het nie die vraag beantwoord: waarom woon ek skool by nie?  Inteendeel die periferie aktiwiteite was vir my van belang. Genadiglik het ek geslaag. Dit was in Groep B; sonder enige sterretjie. Ek en my klasmaat Nico Smit was in die Volksblad se foto op die voorblad se Laat Uitgawe van 10 Januarie 1962. Die foto is geneem van ‘n massa leerders. Ons was toevallig daarop. Die berig lui: foto van beurende leerlinge te sien: spanning en gretigheid is op hulle gesigte te sien.  

Terugskouend gesien was en is Matriek uitslae tog die moeite werd op die lewenspad. Dit gee bewustelik en onbewustelik motivering vir lewens sake.

No comments:

Post a Comment