Tuesday 26 January 2016

PSALM 148: OORDENKING.


PSALM 148

                                                           LOFLIED AAN GOD.

                                   “Laat hulle die Naam van die Here prys.” Psalm 148:5.

Almal en alles, ja alles wat bestaan, word in psalm 148 opgeroep om te sing. Die oproep tot lofsang is nodig, want die Here God verdien dit.  Die psalmis van Psalm 148 noem die wesens wat tot eer van God moet sing, by die naam: die engele en die hemelwesens. Maar ook die dinge wat geskape is, verkondig deur hulle bestaan dat God geloof moet word: die son, die maan, die sterre, en die waters in die hemelruim: “want Hy het beveel en hulle is geskep.” (Psalm 148:5). Die diere, seediere, wilde diere en al die vee wat kruip of vlieg,  is deel van die koor wat God moet prys.  Hulle sing in dieretaal. Sonder die kroon van die skepping – die mens en die mensdom – sal die lofsang onvolledig wees. Konings, vorste, alle regeerders, jonges en oues, gryses en seuns vorm deel van die  skare wat lofsange aan God moet bring. Sy Verbondsvolk, die Israeliete, is die basis van die koor: God het hulle uitverkies om tot sy eer te sing, want hulle moes deur hulle sang aan die wêreld vertel dat hulle God, die God is, om te aanbid. “Die Israeliete,  die volk naby wie Hy is.” (Psalm 148:14).    

Of ons kan sing of nie, ons kan deel wees van dié ewige lofprysingskoor. Prewel of sing van Jesus se liefde, want Hy het die kennis van God vir ons gebring.

 

GEBED

O Here Jeus, ons is deur genade deel van u koor: Jesus het ons gered, daarom wil ons tot u eer  sing. Soms sing ons nootvas, maar dikwels is ons vals. Gee ons die regte lewensnote, sodat ons U nie sal teleurstel nie.

 

VRAE

1.      Verduidelik hoe kan ons lewens nootvas “ sing,” volgens Psalm 148?

2.      Psalm 148 sê dat die sterre, son en maan die Here moet prys.. Hoe kan hulle die Here prys? 

 

 

 

 

 

 

No comments:

Post a Comment