Wednesday 27 January 2016

MATIES SE KONVOKASIE-VERGADERING MEER AS NET OOR AFRIKAANS


MATIES SE KONVOKASIE-VERGADERING MEER AS NET OOR AFRIKAANS

By die vergadering het daar  voortreflike sprekers opgetree. Breyten Breytenbach en ‘n Dame uit Nigerië. Die Rektor, prof Wim de Villiers, was ook aan die woord. 

Wat Lovelyn Nwadeyi, van Nigerië, gesê het, was meer as net of Afrikaans aan US bly of gly. Sy het moontlik die huidige probleem van SA aangespreek. Sy het gesê dat die huidige jong Suid-Afrikaners nie meer soos hulle ouers alles vir soetkoek gaan opeet en niks sê en doen nie.

Hier is Media 24 se verslag oor wat me. Lovelyn gesê het:

 

"Is Stellenbosch dan nie deel van die res van die samelewing nie? Ons is nie uitgesonder van die winde van verandering wat in Suid-Afrika waai nie.”

Nwadeyi het gesê daar is iets onomkeerbaar aan die broei in Suid-Afrika en daar is ’n nuwe generasie Suid-Afrikaners wat nie bereid is om die belangrike kwessies wat hul ouers agterweë gelaat het, aan te pak nie.

“Ons stel nie daarin belang om mense se gevoelens te beskerm nie. Ons verwerp kapitalisme sonder ’n gewete, rassisme, seksisme en enige ander vorm van diskriminasie,” het sy gesê.

“Ons land is in groot moeilikheid. En Stellenbosch is in groot moeilikheid, want ons het ingewikkelde probleme om op te los en dít vereis ’n nuwe vlak van dapperheid.

“Ons as ’n nasie is die somtotaal van ons ervarings. Ons is ’n gemors en ons moet dit erken. Ons kan nie probeer om dit uit ons maatskaplike gewete te wis nie.”

Nwadeyi het gesê hoewel dit so mag voorkom, stel sy geensins daarin belang om teen enige ras- of taalgroep te staan nie. Sy glo egter dat daar eerlike gesprekke oor die land, sy universiteite en sy toekoms moet plaasvind.

Oor die kwessie van taal het sy gesê dat dit iets is wat nooit neutraal is nie – veral nie in Stellenbosch nie.

“Taal is net so persoonlik as wat dit polities is. Soos u kan hoor, praat ek baie mooi Afrikaans. Ek is nie Afrikaans nie en ek het nie Afrikaans op Stellenbosch geleer nie, maar ek is baie lief vir die taal. Ek dink egter nie die primêre funksie van ’n universiteit is om ’n taal of kultuur te beskerm nie. Afrikaans gaan nie sterf as dit nie die hoofonderrigtaal in ons klasse is nie. Vra net vir mense wat steeds hul taal praat sonder ’n universiteit.”


My afleiding is: Die probleem met Afrikaans is die oortjies van die seekoei. Dit gaan om ekonomiese en maatskaplike ongelykheid. Die Swart jeug voel uitgesluit uit die huidige kapitalistiese bestel in SA. Hulle wil ‘n nuwe bestel hê. Daarom my pleidooi van vroe-er op die Blogg. Hervorm die hele ekonomiese  stelsel. Verskaf werk, gratis opleiding, voedsel en menswaardige behuising en sanitasie. Afrikaans op US is die hefboom om meer bemagtiging op alle gebiede. Dus die huidige Konvokasie kan die slag vir Afrikaans nou wen, maar dit is gedateerd en in die toekoms gaan die bordjies verhang word. Ons moet Afrikaans aan ‘n eie selfstandige Universiteit laat voortleef. Weg van Maties of watter universiteit ookal. Breyten Breytenbach het al vroe-er Oudsthoorn as plek vir so 'n Universiteit voorgestel. 

Maar  die probleem van die massas in SA bly en is nie aangespreek nie.   

No comments:

Post a Comment