Monday 21 March 2016

ONDERDANIG.


ONDERDANIG.

Gen 2:18  Ook het die HERE God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help sy gelyke.

Dit beteken: hier is God se begeerte vir ‘n huwelikspaar.  ‘n Huwelik waarin julle nie eensaam sal wees nie, maar ‘n huwelik vir twee as gelykes. Dit is nie ‘n huwelik vir een nie. Dit is nie ‘n huwelik vir eensames nie. Dit is nie ‘n huwelik vir ongelykes nie.

Dit is ‘n huwelik vir gelykwaardiges, dit is ‘n huwelik vir saamwees, Dit is ‘n huwelik vir elkeen se gelyke uniekheid, elkeen gelyke volledige mens.

Die een is nie meerderwaardig en die ander een minderwaardig nie, nee, julle is gelykes.

Die Nuwe Testament bevestig die gelykwaardigheid van man en vrou in Gal 3:28: “Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus.”

  Dit beteken: julle, man en vrou, is almal een in Christus, dus totaal gelykwaardig. Julle is gelykwaardige gelowiges. Daarom stel julle Christus Jesus eerste in julle lewe. En omdat julle hom eerste stel is julle gelykwaardig ook in julle geloofslewe. Julle is gelykwaardige kerklidmate, maak nie saak aan watter kerk julle behoort nie.

Dus is julle gelykwaardige huweliksgenote. As ons nie die gelykwaardigheid van mekaar in die huwelik aanvaar nie, dan verstaan ons die Bybelteks in Efes 5:22 van onderdanigheid verkeerd. Dan kan ons aflei dat die vrou miderwaardig is, ondergeskik aan haar man is en soos ‘n slaaf na hom moet luister.  Nee, dit is nie wat die Bybel met onderdanigheid bedoel nie. Die Bybel bedoel ons is albei, man en vrou, onderdanig aan Jesus Christus. Dit staan in Ef. 5:21  Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig. Engelse vertaling lui: Eph 5:21 ‘Honor Christ and put others first.”  So albei moet Christus eer en mekaar eerste stel. Onderdanig beteken eerste stel.

As die Bybel met die man in Efes 5:25 praat sê die Skrif: Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het. Dit beteken die manne moet die liefde van Christus vir sy vrou openbaar. Dit beteken nie dat die vrou ‘n slaaf is van haar man, geen sê het nie, en altyd hom in alles moet wel geval nie. Christus se bedoeling vir die man en vrou is: Hulle is gelykwaardig. Gelykwaardigheid in ‘n huwelik in alles wat reg en billik is, sal bydra tot ‘n minsame huwelik. ‘n Huwelik vir twee.

Anders is dit ‘n huwelik vir een wat uitloop op die volgende:

  • “Sy domineer haar man totaal.”
  • “In daardie huwelik gaan alles oor hom.”
  • “Sy woord is wet.”
  • “Eintlik gaan dit net oor haar in hulle verhouding.”
  • “Hy luister mos nie wanneer sy haar wense, begeertes, gedagtes of sienswyses probeer verwoord nie. Dit is asof hy vooraf besluit het dat sy in elk geval verkeerd sal wees.”
  • “Ek dink nie sy dink veel van haar man nie. Haar lyftaal wys dit.”
  • “Hy besluit.  Sy moet inval by sy besluite.  Hy sê gereeld: “Niemand sal my oortuig nie... Hier sit ek my voet neer... Hierdie keer (soos elke keer) luister ek nie vir jou nie. So doen ons dit, punt.” En wee haar as sy dit waag om van hom te verskil.
  • “Waar hy/sy is, is daar aanvoelbare spanning. Sy of haar vibes is die hele vertrek vol.  Hy of sy bepaal die atmosfeer.  Dit gaan oor sy of haar ego, bui, persoon, voorkeure, afkeure, irritasies, aggressie, oppe en affe, buie. Veral oor sy of haar sienswyses, ingesteldheid en ingeslane koers. Oor wat die HERE in die gedrag van een mens jeens ‘n ander mens verwag, gaan dit nie.”
  • “Haar emosionele, spirituele en fisiese welsyn maak nie regtig vir hom saak nie. Sy sê sy voel verlate en alleen. Daar is ‘n huwelik, maar nie ‘n ware huweliksverhouding nie. Daar is twee mense, maar eensaamheid. Daar is ‘n verbintenis op papier, maar die band tussen twee siele is geknip. Daar is ‘n huis, maar sy versmoor daarin. Hulle leef nog albei, maar sy is dood.” 

  

DEFINISIE VAN ‘n EENPERSOONSHUWELIK

 

Die definisie van ‘n eenpersoonshuwelik — ‘n huwelik van een en vir een — is:

‘n Huweliksverhouding waarin een van die twee huweliksmaats begrip verloor het vir die wese en karakter van ware Christelike liefde.  ‘n Eenpersoonshuwelik is ‘n huwelik waarin een persoon die hele verhouding vul en sy of haar huweliksmaat in lewende verlies voorsukkel.

Om dus ‘n huwelik vir 2 te wees, verg van albei ‘n volle oorgawe aan Filippense 4:13  “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”

No comments:

Post a Comment