Wednesday 3 February 2016

PSALM 146: OORDENKING.


PSALM 146: OORDENKING.

                                                            EER AAN GOD.

                        “Ek wil die lof van my God besing so lank ek daar is.” Psalm 146: 2

Eer beteken om agting vir iemand te hê: om iemand hoog aan te slaan: om iemand as ‘n voorbeeld te sien. So wou die Psalmis van Psalm 146 eer aan die Here God toebring. Hy het agting vir die Here gehad: “Ek wil die Here prys so lank ek lewe.” ( Psalm 146:2 ). Vir hom was God die Een wat keer op keer agting in hom laat opwel het. God se grootheid het hom met bewondering gelaat: “Die Here het die hemel en die aarde gemaak, die see en alles daarin.” (Psalm 146:6). Die deugde van die Here was vir hom ‘n weergalose voorbeeld: God het reg laat geskied aan die verdruktes, Hy het brood gegee aan dié wat honger was. Die Here het gevangeneis bevry en bedruktes ondersteun. God het die vreemdelinge, weduwees en weeskinders beskerm.

Bowe-al het die Psalmis geweet: God sal sy beloftes uitvoer, want Hy beskik oor  alle mag in die hemel en op aarde.  

As ons aan Jesus Christus dink, wil ons Hom al die eer toebring.  Dit was Hy wat die besetenes  van hulle boosheid genees en siekes gesond gemaak het.  Dit is Hy wat ons in liefde gered het. So ‘n God verdien ons agting. 

 

GEBED

Here, onse God, ons wil al die eer aan U bring. U grootheid en goedheid is grensloos. U sien om na die verdruktes, U genees die siekes, en U red sondaars deur Jesus Christus. Ons prys U vir u leiding deur die Heilige Gees. Inspireer ons om U al die eer toe te bring.

 

VRAE

1.      Met wie kontrasteer Psalm 146 die grootheid van God om te toon dat Hy die Enigste is op wie ons kan vertrou? Motiveer ..

2.      Hoe kan ons God daagliks prys? Verwys na vers 5 en ander geedeeltes.

 

 

 

 

 

No comments:

Post a Comment