Tuesday 16 February 2016

PSALM 142: OORDENKING.


 

PSALM 142: OORDENKING.

                                                                GOD GEE OM.

                                    “Ek roep na die Here om hulp.” Psalm 142:2

Dawid het in ‘n spelonk geskuil, volgens Psalm 142. Hy moes, want Saul wou hom om die lewe bring . Die rede waarom Saul vir Dawid wou doodmaak, was dat Dawid ‘n bedreiging vir sy koninkskap ingehou het. Wat het die voortvlugtende Dawid gedoen? Hy het hom tot God gewend. Waarom?  “Ek soek hulp, maar niemand wil help nie, daar is vir my geen vlugkans nie en niemand gee vir my om nie.” (Psalm 142: 5). Dit beteken: in sy nood het Dawid besef dat niemand vir hom omgee nie. Dawid het  begryp die enigste een wat omgee, was God. Hy bid: “Ek roep na die Here om hulp. (Psalm 142:2). God het sy gebed verhoor. God het dit verhoed dat Saul vir Dawid in die spelonk doodmaak. God se beloftes het waar geword: Dawid het koning geword. 

Met ons is dit anders as wat dit met Dawid gesteld was. Ons word nie fisies agtervolg nie: niemand wil ons om die lewe bring nie. Ons is moontlik oud en alleen en niemand gee vir ons om nie. Ons is jonk, en niemand wil met ons ‘n verhouding aanknoop nie; middeljarig en afgedank: niemand gee om nie.  Maar Jesus Christus gee beslis om. Ons is sy kinders. Hy sê: “Ek sal jou nooit verlaat nie.” (Hebreërs 13: 5).  Verlustig jou in sy ontferming.  Roep Hom aan. Hy sal antwoord.  

 

 

GEBED

Reddende God, U gee om vir u kinders. U het vir Dawid uitkoms in sy nood gegee. Ons bid dat ander vir ons sal omgee. Maar ons vra insig, sodat ons ook vir ander sal omgee.

 

VRAE

1.      Hoe beskryf Dawid sy lewenspad volgens Psalm 142? Wie het telkens tot sy redding gekom?

2.      Watter getuienis het Dawid teenoor Saul gelewer na sy spelonk-ervaring?

No comments:

Post a Comment