Sunday 14 February 2016

PSALM 139: OORDENKING


PSALM 139: OORDENKING

                                                            WEGVLUG

                        “Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug?” (Psalm 139:7).

Die Psalmis van Psalm 139 verklaar dat niemand van die Here God kan wegvlug nie: nie hy nie, nie die ander Verbonskinders nie, nie die ongelowiges nie. Die rede is: God weet, en sien alles. God weet alles, want Hy kyk dwarsdeur hom. God ken sy gedagtes. God weet watter woorde hy gaan praat voordat hy dit uitgespreek het. Maar God sien ook alles.  Die Psalmis wou  wegvlug van die Here. Maar hy ontdek: al klim hy op na die hemel, al gaan lê hy in die graf, al gaan woon hy in die verre weste, dit help nie. God is oral en alsiende, sê die Psalmis.  

God se alwetendheid en alsiendheid word in die Nuwe Testament herhaal: “Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë.” (Hebrëers 4;13)  Dus: ons kan nie vir God wegkruip of opsetlik sondes doen nie. Hy hou ons nie met valkoë dop om ons te veroordeel nie. God tree soos ‘n liefdevolle Vader op: Hy verwerp ons sondes, maar nie ons as sondaars nie: Hy wil ons geborge in sy hande toevou, maar ook help om die sondes te oorwin.

Bid tot God dat sy Gees ons al hoe meer geesvervuld sal maak. Bid tot God dat ons gedrag al hoe meer liefdevol sal wees.

 

GEBED.

Liefdevolle Vader, ons loof en dank U vir redding deur Jesus Christus ons Here. Ons erken u  alsiendheid. U beskerming is vir ons noodsaaklik.  Help ons om nie opsetlik te sondig nie.

 

VRAE

1.      God is volgens Psalm 139:13 by ons voorgeboortelike stadium betrokke. Watter geborgenheid verskaf dit? Motiveer.

2.      Hoe lei God ons prakties om die regte pad, sy weg, te loop? Kyk veral na die laaste gedeelte van Psalm 139.

                                                                

                                                     

 

No comments:

Post a Comment