Saturday 20 February 2016

PSALM 103: OORDENKING.


PSALM 103: OORDENKING.

                                                           LIEFDE

       “Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde.” Psalm 103:8

Die Israeliete se sonde het hulle diep geraak. Hulle optrede teenoor God en hulle naaste moes ooreenkomstig die wet van God geskied het. In die Ou Testament staan daar: “Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag.” (Deuternomium 6:5) en:  “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” (Levitikus 19:18). Die  samevatting van die wet wat die Here Jesus in Matteus 22: 34 tot 40 gegee het, is op hierdie Skrifwoorde gebaseer. Elke keer as die Verbondsvolk selfondersoek gedoen het, het hulle tot die onstellende ontdekking gekom dat hulle gesondig het. Hulle het God vergeet en hulle naaste liefdeloos behandel.. Soms is hulle deur die profete daaraan herinner dat hulle voor God gesondig het. Telkens het hulle besef dat hulle straf verdien. Maar dan die heerlike ontdekking: God is barmhartig en genadig. As hulle hulle skuld bely het, het God hulle vergewe. “Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie.” (Psalm 103:9). God vergewe, omdat Hy sy kinders ewig liefhet. 

Vir ons wat ons verhouding met God en ons naaste ernstig opneem, is dit broodnodig om telkemale selfondersoek te doen. Moontlik kom ons met ‘n skok agter dat ons God en ons naaste afgeskeep het.  As dit die geval is, onthou: God het ons lief. In Jesus vergewe Hy elkeen wat sy sonde bely.

 

GEBED

Here Jesus, ons sondig daagliks: ons vergeet U en tree liefdeloos teenoor ons naaste op. Vergewe ons sonde en reinig ons van alle ongeregtighede.

 

VRAE

1.      Hoe word die liefde van God in Psalm 103 beskrywe?

2.      Sal die Here alle sondes volgens dié  Psalm vergewe?

 

 

 

 

 

No comments:

Post a Comment