Tuesday 1 December 2015

OORDENKING: PSALM 27


 

                                           OORDENKING:  PSALM 27

                                                            VREES

           “Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees?” Psalm 27: 1

Vrees is ‘n verskriklike ding. Is vrees ‘n ding? Ons kan dit sagkens ‘n gevoel noem.  Maar die uitwerking daarvan is soos ‘n ding, want dit voel simbolies gesproke nie soos ‘n sagte bed waarop ons slaap nie, maar eerder soos ‘n harde klapperhaarmatras: dit is ongemaklik en irriterend. Ons bly die heelnag daarvan bewus. So is dit ook om intens bang te wees.  Ons vrees die uitslag van bloedtoetse, X-straalplate, hofsake. Selfs telefoonoproepe van ons kinders oorsee kan vreesaanjaend wees. Hulle vertellings van probleme wat hulle daar ver ondervind, kan ouers met vrees vervul.

Met die skryf van Psalm 27 het ‘n ander vrees die skrywer beetgepak. Hy is bedreig deur boosdoeners. Mense wat hy as vyande beskryf het, het op hom afgestorm. Hulle wou hom doodmaak. Sy hantering van die bedreiging was om fisies in die tempel te gaan skuil: “Die Here (sal) my wegsteek in sy huis.” (Psalm 27:5).  Om die voorbeeld van die Psalmis na te volg en in ‘n kerkgebou te gaan wegkruip, sal nie ons vrees laat verdwyn nie: ons probleme is anders as die Psalmis s’n. Wat wel beslis sal help, is om ons vrees aan God  te oorhandig  en ons bangheid  vir Hom te bring. Vrees sal oorwin word as ons God volkome vertrou: “Vertrou op die Here! Wees sterk en hou goeie moed!.Ja, vertrou op die Here!" (Psalm 27: 14).

 

GEBED

Volmaakte God, ons is  bang. Daar is so baie dinge wat ons toenemend vreesagtig maak. Help ons, Here Jesus. Verdryf alle vrees.

 

VRAE

1.      Wat het die Psalmis van Psalm 27 gedoen om sy vrees te besweer? .

2.      Watter aanpassings moes die Psalmis maak om sy bangheid te oorkom?

No comments:

Post a Comment