Monday 7 December 2015

OORDENKING: PSALM 55


PSALM 55

                                                       BEKOMMERNISSE

                                               “Hy sal vir jou sorg.” Psalm 55: 23

Werkverlies is een van die grootste bekommernisse. Ons leef met ‘n swaard oor ons kop: groot multi-nasionale maatskappy verminder hulle werkerskorps. Groot instellings kan nie meer  salarisse bekostig nie, daarom ‘n reeks afleggings.

Net soos Psalm 55:3 wil ons sê: “My sorge gee my geen rus nie.” Ons kan nie rustig slaap nie, want ons word dalk binnekort afgedank. Hierdie onsekerheid veroorsaak siektes: ons is hiper-gespanne: ons kry maagsere en ontwikkel hoë bloeddruk. Kwale van dié aard is ‘n bose kringloop. Mediese koste is ons voorland, wat weer spanning skep. Hoe gaan ons doktersonkoste betaal as ons ons werk verloor?

Die Skrywer van Psalm 55 wou van sy sorge wegvlug: “Ag, as ek maar vlerke soos ‘n duif gehad het, sou ek wegvlieg en ‘n woonplek soek.” (vers 7).  Gou het hy agtergekom dit help nie om te probeer ontvlug nie. Sorge is ‘n negatiewe emosie wat ‘n mens binne-in jou saamdra. Nadat hy dit besef het, het hy die regte koersaanpassing gemaak. Sy bekommernisse het hy vir God gegee. “Laat jou sorge aan die Here oor. (Psalm 55:23) Bekommernisse kan ophoop soos ‘n vullishoop wat smeul om aan die brand te slaan. Dus is die gewenste aksie: praat direk met die Here Jesus. Vertel Hom presies wat ons kwel. Moenie die besonderhede wat aan ons knaag, verswyg nie. Sodra ons die las aan Iemand anders oorgedra het, voel ons verlig. Hy sal sorg.

 

GEBED

Here Jesus, bekommernisse is soos ‘n verterende vuur. Ons is nie in staat om dit eiehandig uit te blus nie. Bevry ons van bekommernisse, en van ongeloof.

 

VRAE

1.      Watter uitwerking het bekommernisse op ons volgens Psalm 55?

2.      Psalm 55  wil vernedering en sorge aan mekaar koppel. Is dit waar? Motiveer?

 

                                                 

 

 

 

 

No comments:

Post a Comment