Tuesday 8 December 2015

OORDENKING: PSALM 69


OORDENKING:   PSALM   69

                                                                PYN.

  “Ek is ‘n hulpelose mens, vol pyn, maar U, o God , sal my red en my beskerm.” Psalm 69:30

Daar is pynklinieke in haas elke hospitaal in Suid Afrika. Fisiese pyn is ‘n siekte van ons tyd. Deesdae is daar mediese spesialiste op hierdie gebied. Chroniese pyn, soos die vasdruk van senuwees wat nie chirurgies herstel kan word nie,  word in ‘n sulke klinieke behandel. Pyn laat ons uitroep: ‘’Ons is hulpeloos en rasend van ongemak! ‘’

Niemand kan die allesoorheersende impak wat pyn op ons het, afmaak as iets onbelangriks

 nie.  Chroniese liggaamlike pyn maak ons normale funksionering as mense bykans onmoontlik. Gelukkig is daar klinieke waarna ons ons kan wend. Die mediese wetenskap het ver gevorder om uitkoms te bring.

Maar die verligting van pyn is ‘n saak van die Here God. Hy het aan die mediese wêreld die insig gegee om verligting te bring. Hierin speel ons ‘n belangrike rol. Ons het die pyn: dit is persoonlik en dit is hier binne-in ons. Wat moet ons doen? Ons moet bid, sodat die regte mediese stappe geneem sal word en vra dat ons die pyn reg sal hanteer. As die pyn toeslaan, bid ernstig tot God, die Vader om uitkoms. Hy kan en sal elke keer as daar om hulp gevra word,die skerp “dolksteke” wegneem. Moenie moed opgee as die pyn ná gebed weer toeslaan nie. Bid elke keer en die uitkoms sal daar wees.  

 

 

GEBED

O, Here God, ons roep na U om uitkoms. Die pyn is oorweldigend! Ons kan dit nie meer hanteer nie. Bring asseblief uitkoms, Here!

 

VRAE

1.      Hoe kan ons pyn hanteer, sodat ons ander wat ons wil help, nie sal irriteer nie?

2.      Speel vas hierin ‘n rol? Lees Psalm 69.

 

 

 

 

 

 

No comments:

Post a Comment