Saturday 26 December 2015

DIT IS ‘n GEGEWE DAT 2015 SO TE Sê VERBY IS.


DIT IS ‘n GEGEWE DAT 2015 SO TE Sê VERBY IS.

Dit is ‘n gegewe dat 2015 so te sê verby is. Noodwendig sal die voorspoedige wense luidkeels herhaal word. Meewerkend is Big Ben in Londen en elke kerk met ‘n funksionerende kerkklok wat die nuwe jaar beierend sal aankondig. Op sommige plattelandse dorpe sal die sterftelys in die kerk net voor Middernag afgelees word. Dog voor middernag sal Fonteine in die groot wêrelstede nie die malendes  in hulle besopenheid  ewig kan verkwik nie. Die geroesmoes na vreugde is vingerlank. Happy versink in die kakafoniese gebulder van die mensdom. Nadat almal uit die reinigende water uitgerol het, sak die stilte oor die stede toe, die vuurwerke verdamp in die hemelruim. Niks is op die horison nie net die swartheid van die nag wat vol materie lê en wag.

Terugskouend: dit is nie vanselfsprekend dat 2015 ‘n uitstaande jaar was nie. Dog sal die goedgevoelendes dit ontken. Sal daar naastiglik na alles wat mooi en heerlik is uit die klerekas gehaal en uitgestal word as bewys dat alles wel was. Sal daar hoogheilig aangevoer word dat die goeie gewer van alles niks sal laat skeefloop nie. Ja, beslis God hou sy werke in stand. Hy hou sy maaksel volmaak in stand. Tog in die hande van die maaksel het baie gebeure in die jaar 2015 ‘n mismaaksel geword. Ten spyte hiervan is die herskeppingswoord kenbaar vir diegene wat die hoorbaar wil aanvaar. God se woord bly ewig stand al hou niks staande nie. Indien dit nie die geval was dat die woord nie alles instand hou nie, sou ons soos Adams en Evas in die niet verdwyn.  So ‘n moontlikheid laat alles in somberheid verskrompel.

En is 2016 weereens ‘n spookasem.

Dog 2016 kan ‘n gebeurtenis wees. ‘n Gebeurtenis word nie verkry as ‘n aalmoes nie.  Dit word nie gegee nie. Dit gaan nie in fonteinedal of op die hoogste berg gevind word nie. Dit is nie soos ‘n verborge skat wat op ‘n eiland weggesteek is nie. Nee, binne in ons moet ons ons sentrumloosheid soos die Rubikon oorsteek. Met al die jare se gewoontes het ons outisties geraak soos die Rain Man in die fliek. Ons kan uit ons gewoontes kom nie. Ons linker en regterbrein is nie geskei nie. Daar is geen nuwe denke moontlik nie. Dus bring die sentrum terug. Dus bring denke terug. Dus kruisig alle ou gewoontes. Dan slegs, dan is 2016 ‘n gebeurtenis.

No comments:

Post a Comment