Wednesday 2 December 2015

OORDENKING: PSALM 30.


PSALM 30.

                                                     GESONDHEID.                

   “Here, my God, ek het na U geroep om hulp en U het my gesond gemaak. “ (Psalm 30:4.)                                      

‘Die geloof wat van Hom kom, het die man volkome herstel, hier voor julle almal.” (Handelinge 3:16). Dié woorde van Petrus is ‘n getuienis van ‘n wonderwerk wat plaasgevind het. ‘n Verlamde man het Petrus en Johannes se aandag gevra, maar God het hom genees. Petrus verduidelik in Handelinge 3:16 dat dit die geloof is wat van Hom kom, wat die genesing bewerkstellig het. Dit beteken: God is die groot Geneesheer: Hy het aan die verlamde man die geloof gegee wat sy bene sterk gemaak het, sodat hy geloop het. Deur die genesing het ‘n kragtige boodskap uitgegaan: God kan genees soos Hy wil. Hoe groot moes die man se dankbaarheid nie gewees het nie.

Wanneer ons in die intensiewe-sorg eenheid van die hospitaal lê of net eenvoudig siek is, is daar net  een gebed: maak ons tog gesond, Here Jesus!  As ons ernstig siek is, besef ons dat as die Here Jesus ons nie aanraak nie, sal ons sterf.  God wil genees: God het geen behaë daarin dat ons voor ons bestemde tyd sal sterf nie. “Die Here sal hom bystaan in sy siekte. As hy siek is, sal U hom genees.” (Psalm 41: 4). Loof en prys God in die Naam van Jesus Christus vir sy genesing: getuig van sy groot wonderdade.

 

GEBED

In die Naam van Jesus Christus bid ons: genees ons van siekte. Ons wil nie op die verkeerde tyd sterf nie, Here Jesus. Alle lof en dank aan U vir u bystand in ons siekte

 

VRAE

1.      Wat moet ons doen as ons ernstig siek is volgens Psalm 30?

2.      Watter gesprekke behoort ons na genesing te voer?

 

 

 

 

 

 

No comments:

Post a Comment