Thursday 3 December 2015

PSALM 16: NUWE TESTAMENTIES VERTOLK.


PSALM 16

GODDELIKE BEGRIP.

 
1. Neem my angs in ag, Jesus, Christus

want ek is so weerloos teen vrees,

daarom my gebed dat U begrip sal hê vir my innerlike nood.

2. Ek het vir Jesus gesê:

Ek het U aangeneem as my persoonlike Verlosser,

daar is geen rede om beangs te wees nie,

nogtans het lewensvrees my oorweldig.

3. Die alternatiewe wat in die land,

in U plek aangebied word, Here Jesus,

so aanloklik vir die massa’s,

met diesulkes en hulle planne kan ek my nie vereenselwig nie.

4. Mag ek nooit van die regte roete afwyk nie, Here Jesus,

want ek wil net aan U lojaal bly.

Bewaar my van enige bedenklike raad

van watter aard ookal,

sodat my integriteit bo verdenking sal bly.

5. Here Jesus, U is die enigste één

wat innerlike vrede en kalmte

kan verskaf.

6. ‘n Pragtige landskap skenk U aan my,

ja, wat U gee is volmaak,

alles om my heen is helder en mooi.

7. Ek kan en mag nie swyg nie,

want U lei my tot die regte insig in myself,

selfs as ek in die nag daaroor nadink,

bly ek bewus van U teenwoordigheid.

8. Ek weet die Here Jesus is altyd by my,

omdat U teenwoordig is,

sal my vrees wyk.

9. Daarom is ek uitermate vol blydskap

en voel ek my selfopgelegde vrees verdwyn.

10. U, Here Jesus, het uit die graf opgestaan,

daarom sal ek ook uit die dood ontwaak.

11. U het my uit guns alleen gered

By U is daar uitbundige vreugde.

U insigewende inwerking in my

kan my van angs bevry.

No comments:

Post a Comment