Sunday 6 December 2015

OORDENKING: PSALM 51


                                                 OORDENKING:  PSALM 51

                                                  VERGIFNIS

                               “Wees my genadig, o God”  Psalm 51:3.

Dawid was dié koning na God se hart. Van sy kleintyd af het die Here hom uitverkies om koning te word. Hy het aanvanklik so goed regeer dat hy by God en die volk hoog aangeskrewe was. Maar die wending het gekom die dag toe hy vir Batseba van die paleis se dak gesien het. Die blik van sy oë het die verkeerde drange in hom wakker gemaak. Na owerspel het hy Batseba se man op die voorste linie in die oorlog geplaas. Urija het in die oorlog omgekom. Van daardie oomblik af het die ellende Dawid getref. Die profeet Natan het met hom ‘n onderhoud aangevra. Op ‘n subtiele manier het hy aan Dawid ‘n storie vertel. Dit was ‘n verhaal waarin ‘n ryk man die enigste ooilam van ‘n arme gevat en vir ‘n besoeker geslag het. Dawid wou die onreg daar en dan regstel, maar die angel van die verhaal tref Dawid. Natan beskuldig Dawid daarvan dat hy die onreg gepleeg het: hy het Batseba as vrou gevat. Dawid het onmiddellik bely: “Toe sê Dawid vir Natan: “Ek het gesondig teen die Here.” (2 Samuel 12:13)  Dawid het geen verskoning uitgedink nie: hy het niemand anders blameer nie: nee, hy het persoonlik aanspreeklikheid vir sy sonde aanvaar. Sy sonde is vergewe.

En ons? ‘’As ons ons sondes bely- Hy (Jesus) is gerou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.” (1 Johannes 1:9).

 

GEBED

Vergewende Vader, ons bid in Jesus Naam dat u ons persoonlike sonde sal vergewe. Soos Dawid wil ons daarvoor persoonlik aanspreeklikheid aanvaar. Dankie dat die bloed van U Seun ons gereinig het.

 

VRAE

1.      In Psalm 51:8 sê Dawid dat God opregtheid verwag. Wat bedoel hy?

2.      Watter offer vra God volgens Psalm 51 nadat daar gesondig is?

 

 

                                 

 

No comments:

Post a Comment