Tuesday 8 December 2015

PSALM 22: NUWE TESTAMENTIES VERTOLK


 

PSALM 22: NUWE TESTAMENTIES VERTOLK. 

GODDELIKE GEBEDSVERHORING.


2. Aan die kruis, aan die kruis,

het U, Jesus Christus, luid uitgeroep:

is dit my lot?

is dit my lot, o God?

my God, my God, waarom het U my verlate agtergelaat?

3. Onderweg na Golgota,

het U in Getsemane,

geworstel met God, en pleitend gebid:

my God, my God, moet ek hierdie selfvernietigende beker drink?

Laat hierdie ondraaglike lediging My verbygaan,

want die sondevyandskap teen God is onuithoudbaar.

Nogtans het U, Jesus Christus, insiggewend geplet:

nie my wil nie, nie my wil nie, maar laat U wil geskied, o God!

4. U, is die Heilige Heiland,

wat aan die regterkant van God sit,

en vir ons pleit.

5. Ons gelowige voorgeslagte het hulle hoop op U gebou.

U het hulle hoop nie laat beskaam nie,

want U het getrou U beloftes gehou.

6. Hulle noodkreet is met U daadwerklike optrede, beantwoord:

hulle is van hulle noodtoestand bevry.

7. Maar ek, Here Jesus, dwaal rond soos ‘n eensame wildsbokkie,

‘n maklike teiken vir andere se veragting en hoon,

wat my laat wanhoop aan my eie menswaardigheid. 

8. In die oë van ander mense is ek veragtelik.

Hulle hoon en spot laat my inmekaar krimp,

en hulle stem inskiklik saam as hulle sê:

9. “Ha, ons sal sien of die arme drommel,

wat op die Here vertrou,

van sy noodangs bevry sal word:

laat dit aan God oor wat sal toon

of Hy baie van daardie dwaas hou.”

10. Maar ek kan maar net eenkant staan en uitroep:

U, Here Jesus, U ís my Verbondsgod,

wat my van my aansyn af, getrou onderhou.

11. U eindelose sorgsaamheid, vir my, is so duidelik

dat ek weet: U het my van my moeder se naelstring bevry:

U het my die eerste asemteug, laat gee.

12. Alhoewel ek weet dat U by my en in my is,

het vrees my oorweldig:

ek voel dat U, U rug op my gekeer het,

en dat geen mens bereid is om my te help nie.

13. Wrede mense staan gereed

om my te verdelg,

en het my in ‘n hoek gedryf:

soos wilde volstruise wat my omsingel.

14. Soos giftige slange wat sissend op my afseil,

wil hulle my dodelik vergiftig.

15. “Ek is dolleeg,

my beendere is uitgeteer,

my hart klop onegalig in my rond,

dit wil botweg gaan staan.

16. Ek is ‘n nul op ‘n kontrak.

My verhemelte is uitgedroog

U laat my soos ‘n halwe-dooie agter,

op die eensame pad tussen Jerusalem en Jerigo.

17. Soos hiënas wat my wil verskeur,

is die kriminele bendes om my,

wat my bind en boei om toe te slaan.

18. Magteloos is ek uitgelewer aan vreemdes.  

hulle lag my uit in leedvermaak.

19. My eiendom word wreed van my weggegryp,

en ek word van my besittings gestroop.

20. In my wanhoop voel ek dat U weg is:

U is al een wat kan help.

21. Spaar my van die dood,

want ek wil lewe.

Red my uit die hande van misdadigers, o God!

22. Neem al die wilde diere weg wat my bedreig

bevry my van die ineergestrengelde wortels van die kwaad.

Ek weet U is ‘n hoorder van die gebed.

23. Uit diepe dankbaarheid sal ek in die gemeente getuig,

van U grootsheid en bevryding uit die hande van die kwaaddoeners.

24. In die openbaar sal ek U, verheerlik.

Ek vertel van U redding, en uit dank doen ek wat U verlang.

25. Almal, ja almal, wat verontreg is,

sien Hy raak, en niemand word geïgnoreer nie.

Hy hoor elke gebed wat gebid word.

26. Hy skenk aan my ‘n nuwe lied, van lof aan Hom, oral waar ek gaan.

my Godsbeloftes doen ek in Sy krag voor die ganse mensdom.

27. Die hongersnood van die wêreld,

sal in die eindtyd iets van de verlede wees,

en elke ontbeerde sal in voedsel oorvloed kan lewe:

dan sal elkeen weet, God verskaf alles,

en Hy is werd om gedank te word.

Hulle sal ewig en geluksalig lewe.

28. Wanneer die eindtyd aanbreek,

sal elkeen weet dat dit God is wat regeer,

en hulle sal hulle lojaliteit aan hom betoon.

Die ganse mensdom sal erken dat Hy God is,

29. want sy Regering is ewig geldig.

Hy heers oor almal en alles.

30. By die bruilofsmaaltyd sal ryk en arm

ja, almal bely dat U koning is,

en U aanbid.

31. Op daardie oomblik wanneer ons ewige blik

verwesenlik word, sal alle geslagte deel van sy Koninkryk wees.

32. Op daardie oomblik sal alle geborenes weet:

God het in Jesus Christus van alle ewigheid af regeer.

No comments:

Post a Comment