Sunday 6 December 2015


PSALM  46        GOD BESKERM ONS

                  “God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerrming.” Psalm 46:2.
Jerusalem was die Godstad. Daar in die Tempel het God gewoon. Hy was die Anker, die beskermer van Israel. Almal se vertroue was op Hom gevestig. Trouens,  dit was Hy wat die volk Israel in aansyn geroep  en met hulle voorvaders ‘n verbond gesluit het. Vanuit hierdie vertrouens- verhouding het ‘n belydenis van geloof in Psalm 46 gevolg. Die gelowige Israeliet  kon met sekerheid verklaar: God se teenwoordigheid in die Tempel het daarvan ‘n vaderhuis gemaak. Hulle kon altyd na Hom vlug as die lewe hulle druk. Hy was hulle toevlugsoord, hulle  Vrystad waar hulle onaantasbaar sou wees. Aardbewings, sinkgate, oorstromings of watter aardse ramp wat hulle ook kon bedreig, sou hulle geen skade aandoen nie. Hulle bely: “God is daar; die stad sal nie wankel nie.” (Psalm 46:6). Jerusalem was vir hulle die sentrum waarom alles gedraai het. Hulle het geglo dat dié stad nooit in die hande van vreemde moondhede sou val nie. Hierdie geloofbelydenis het ‘n gerusstelling bevat: “Bedaar en erken dat Ek God is.” (Psalm 46:11). God het aan sy Verbondsvolk rus en vrede in hulle gemoed gegee.
Vir ons is daar ‘n troosvolle versekering in Jesus Christus se Hoëpriesterlike gebed: “Heilige Vader, bewaar hulle in U Naam, die Naam wat U my gegee het.” (Johannes 17:11).Jesus Christus wil sy kinders besekrm. Kom ons voed ons met sy Woord en versterk so ons geloof.
GEBED
Grote God, ons hou aan Jesus Christus se gebed vas: bewaar ons van alle ellende wat ons mag tref: voed ons met u Woord, sodat ons ons geloof kan versterk.   
VRAE
1.      Waarom sou Psalm 46 die Israeliete se geloof versterk? Motiveer asseblief.
2.      Hoe bestuur God sy aarde volgens Psalm 46?

 

 

                                                   

                                              

No comments:

Post a Comment