Sunday 27 December 2015

PSALM 8: NUWE TESTAMENTIES VERTOLK.


PSALM 8: NUWE TESTAMENTIES VERTOLK.
 
GODDELIKE SKEPPINGSMIDDELAAR
ons Christus,
want ons is deur genade inbegrepe in U. 
 
2. Christus, ons Christus,

watter ander Naam bring soveel vreugde en vrede

soos U Naam oor die ganse aarde,

watter ander Een kan so duidelik openbaar

dat U, God, die vonkelende sterre geskep,

en dit in die heelal geplaas het.

3. Selfs die kinders en die kleine baba’s,

sing van die Bethlehem Ster,

wat alles met heerlikheid kom kroon het.

En so word diegene wat verkeerde gesindhede,

teenoor U gekoester het, se monde gesnoer.

4. Kyk ek na die helder hemelruim

wat U so ruimskoots gevorm het,

kyk ek na U vingerafdrukke in die heelal,

die sonnestelsels, die planete en sterre,

wat U ‘n ruimte in die heelal gegee het,

5 dan besef ek dat die mens stof is, sterrestof,

nogtans weet ek: die helder Môrester se glans bring nuwe lewe na die dood. 

6. U het die mens seggenskap oor die ganse geskapheid gegee,

U het die mens bo die engele begunstig,

en gekroon as koning, priester en profeet.

7. U gee die mens die reg om U kind te word,

en as beeldraer oor U handewerk,

met verankerde verantwoordelikheid op te tree.

Ja, alles is die mens se domein wat U gegee het,

8. ja, selfs die slagvee, die beeste en die skape,

tot alle diere in die oop velde,

9. tot die vlieënde voëls in die blou lug,

en die swemmende visse wat oseaanloos beweeg.

10. Christus, ons Christus,

watter ander Naam bring soveel vreugde en vrede

soos U Naam oor die ganse aarde.

No comments:

Post a Comment