·
Die Burger
·
Hanna LUX VERBI, R185
Maartens vertolk Hanna meesterlik
Maretha Maartens is
een van Afrikaans se mees ervare skrywers, met ’n rits titels in omtrent elke
genre én ’n dubbele handvol bekronings om haar op te roem.
Hanna is Maartens
se eerste Bybelroman; dit wil sê: ’n verhaal wat op ’n Bybeldeel gegrond is.
Hanna, vrou van die
Leviet Elkana, is kinderloos. Kinderloosheid is vandag nog vir baie vroue
traumaties – in die Ou Testamentiese tye was dit as’t ware ’n vrou se plig om
haar man van ’n rits orrelpypies te voorsien.
En daar is aanvaar
dat om nie kinders te kan hê nie, ’n onverbiddelike God se manier is om ’n vrou
vir een of ander misdryf te straf.
Volgens die Ou
Testamentiese wette is Elkana ná ’n aantal jare daarop geregtig om weer te trou
met die hoop dat sy nuwe vrou wel vir hom kinders sal gee.
Hy keer die veel
jonger Peninna aan – wulps en bitsig en so vrugbaar dat sy ’n vlakhaas in die
skande sal steek.
Daar is die
noodwendige konflik tussen Hanna en Peninna; en die openlike vyandigheid tussen
Hanna en haar pa. En sien Hanna iets van haarself in Elkana se
verminkte pa, wat blykbaar ook nie “goed genoeg” is vir God nie?
Soos
enige roman wat op ’n historiese werklikheid gegrond is, is die groot uitdaging
vir die skrywer om getrou te bly aan die inligting wat beskikbaar is – én om
dit aan te vul met fiktiewe karakters en gebeure wat naatloos daarby inskakel.
Maartens doen dit meesterlik. Die skrywer het dié boek met erns en respek (vir
haar karakters en die Bybelstorie self) geskryf.
Die
heldin is hartseer en wroegend, maar Hanna is nie morbied nie. Dis ’n boek vol
hoop en deernis, realisties geskryf.
Hanna
is ’n hoogtepunt in ’n jaar waar die uurglas – so voel dit – veels te vinnig na
die Kerstyd haas. ) J.B. Roux is ’n vryskutresensent van Riebeek-Wes.
No comments:
Post a Comment