Saturday 29 October 2016

Maartens vertel meer oor haar Bybelroman

Deur Elretha Britz 27 Oktober 2016 21:56





Talle hedendaagse vroue sal empatie met Hanna van die Bybel hê, die vrou wat nege jaar vir ’n baba gewag het en hom toe boonop moes afgee. “Dit kon nie maklik gewees het nie,” vertel die skrywer Maretha Maartens oor haar nuutste Bybelroman.

Woensdag sal Brenda Myburgh haar oor meer aspekte van dié vrou se lewe pols wanneer Hanna in Bloemfontein bekend gestel word.

Volgens Maartens hou die roman ook lewenswaarhede in vir almal wat nie kry wat hulle wil hê nie. “Hoe hou jy jou geloof te midde van onvervulde begeertes en gebede wat nie verhoor word nie? Hoe het Hanna dit in die Bybelse milieu van die Ou Testament gedoen?”

Antwoorde is nie altyd voor die hand liggend nie, tog kan ’n mens riglyne vind uit die lewe van ander wat reeds deur die meule is.

Maartens sê toe Lux Verbi haar vra om die roman te skryf, het sy juis ’n intensiewe fase oor die Levitiese orde en geslagsregister as deel van haar navorsing vir ’n toeligtingsbybel agter die rug gehad.

Die skriftuurlike grondslag vir Hanna was dus gelê asook ’n kennis van die Steentydperk – hoe die wêreld toe gelyk het en wat in daardie omstandighede plaasgevind het.

Maartens sê in ’n roman moet ’n mens versigtig wees om heiligskennis te pleeg, daarom het sy vir haarself kriteria neergelê wat so ’n “oortreding” verhinder het.

“Ek het niks verander wat God regstreeks gesê het nie. Maar vir Hanna, oor wie net ’n paar feite in die Bybel verskyn, het ek wel ’n geskiedenissie geskep. Ek het byvoorbeeld vir haar ’n ouma en ’n boetie gegee en haar gemoedstoestand uit eie lewenservaring geskets.”

’n Beskrywing van Hanna se huis het sy in Bybelse bronne gekry.

Maartens sê hoewel poligamie in daardie jare aanvaarbaar was, kon dit nie maklik gewees het om met jou man se ander huwelik saam te leef nie.

Elkana se ander vrou, Peninna, was boonop mooi, jonk en sterk en het baie kinders gehad.

Toe Hanna ná vele jare eindelik vir Samuel in die wêreld bring, was sy genoodsaak om hom volgens die Levitiese wet (Elkana was ’n Leviet) aan die Here af te staan.

“Kan jy dink hoe getraumatiseerd Hanna moes gewees het, die innerlike wroeging waarmee sy moes worstel? In daardie jare is ook geglo vroue is met kinderloosheid gestraf oor ’n diep verborge sonde.”

En natuurlik wou die kleine Samuel ook nie van sy mamma weggaan nie. Maartens sê ’n mens moenie dink hy het soos ’n klein engeltjie voor Eli gestaan soos ’n mens in ou skilderye sien nie. Die tabernakel was ’n donker plek en allesbehalwe kindervriendelik. Om meer te wete te kom van dié uitsonderlike verhaal en hoe Maartens te werk gegaan het om dit so getrou moontlik weer te gee, kan die bekendstelling op 2 November om 18:00 in 59@Plenty, Gallery @ Leviseur, bygewoon word. Kaartjies kos R80 en sluit verversings en wyn in. Bespreek by rsvp@nb.co.za of Clare Williams by 021 406 3477.

BRON: http://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/maartens-vertel-meer-oor-haar-bybelroman-20161027

No comments:

Post a Comment