Thursday 27 October 2016

GELYKE KANS ONDERWYS



   Fondsinsameling vir Afrikaans

 

Die jaar 2016 kan Afrikaans se noodlotjaar word as daar nie dringende en doelgerigte aksie kom om die aanslae teen Afrikaans as  onderrigtaal aan universiteite die hoof te bied nie.

Hoewel 'n paar universiteite in Suid-Afrika voorheen Afrikaans as voertaal gebruik het, het die een na die ander die afgelope ruk verengels. Onlangs het die Universiteit Stellenbosch ‘n beleid aanvaar wat Afrikaans en Afrikaanse studente as  minderwaardig behandel en Engels tot die oorheersende doseertaal en administratiewe taal  verhef.

Mnr. Jannie van der Westhuizen, Rektor van Paul Roos Gimnasium, het uit die US Raad bedank omdat die beleid gelyke status vir Afrikaans en Engels kategories verwerp en selfs nie eens die huidige aanbod van Afrikaans wil waarborg nie.

Die uitfasering van Afrikaans gebeur ondanks die feit dat daar reeds in die Wes-Kaap – die bakermat van Afrikaans, met ‘n meerderheid Afrikaanssprekendes – drie ander Engelse  universiteite bestaan.

Die skade wat die US se taalbeleid na verwagting aan Afrikaanse skole gaan doen, kan vernietigend wees. Daar sal toenemend `n aandrang wees dat Afrikaans reeds op hoërskoolvlak deur Engels as voertaal vervang moet word aangesien die US nie meer  `n volle Afrikaanse aanbod maak nie.

Daar is al oor en oral bewys dat die beste skoling moedertaal-onderrig is. Opvoeding in die moedertaal anker die kind in sy gemeenskap, en bied hom of haar 'n vertroude wegspringplek in die proses van volwassewording. Moedertaal staan dus sentraal in gemeenskapsontwikkeling. Dit beteken nie dat kennis van ander tale waardeloos is nie; net dat moedertaal van kardinale belang is.

Moedertaal-onderwys verg moedertaal-vaardige onderwysers. Hierdie vaardigheid ontwikkel hulle in hul opleiding by ons universiteite en kolleges. Hierdie argument is net so geldig vir talle ander beroepe, soos die opleiding van medici, wat hul pasiënte moet verstaan, regsgeleerdes in hul praktyk en in die howe, handelaars in sakeondernemings en so meer.

As verengelsing voortduur, sal ons skole nie meer in-moedertaal-opgeleide onderwysers kry en sal die studerende jeug  nie meer in hul moedertaal onderrig kan word nie. ‘n Effektiewe mono-kultuur sal die samelewing verswak en laat agteruitgaan. Die meerderheid moedertaal-sprekers in Suid-Afrika - mense wat ander tale as Engels gebruik - sal op hierdie manier afgedruk word in 'n situasie van tweedeklas burgerskap. ‘n Baanbreker-studie van Unesco oor moedertaal-onderrig in Afrika het juis bevind dat die gebruik van die voormalige koloniale tale slegs die elite baat en die oorgrote deel van Afrika se bevolkings benadeel. Dit is een van die vernaamste oorsake wat ontwikkeling in Afrika strem.

Ons het ‘n kragtige saak vir moedertaalonderwys, gerugsteun deur talle deskundige voorleggings.

In die geval van die US, wat selfs sy stigtingsvoorwaardes verwerp, is dit gebiedend dat sy nuwe taalbeleid deur die howe ongeldig verklaar moet word. Om hierdie rede het ons die beweging GelykeKanse gestig, waarvan die lede pas ‘n grondwet aanvaar het. 

Ons eerste mikpunt is om R1 miljoen in te samel om deur middel van `n hofuitspraak die US te dwing om gelyke behandeling aan Afrikaans en Engels as voertaal en kommunikasietaal te gee. Ons werf ook fondse vir die groter taak om die opleiding te verseker van onderwysers wat doeltreffend in Afrikaans-medium kan skoolhou en om behoeftige kinders te help wat in Afrikaans verder wil studeer.  

Hiervoor het ons jou steun nodig sowel as die steun van honderde oud-Maties asook alle ander goedgesindes vir ons fondsinsameling, ‘n veldtog wat landwyd en internasionaal gevoer word. Dit geskied onder die vleuels van GivenGain, met sy Suid-Afrikaanse hoofkantoor op Stellenbosch, wat vir die doel die Stellenbosch-Antwerp Trust gestig het.

Daar is drie groepe van skenkers:

·         KLINKERS - ‘n Klub van Honderd, wat reeds begin het om elkeen R10 000 by te dra. Hoekom KLINKERS? Omdat A,E,I,O,U staan vir: Afrikaans, Erfenis, Inklusief, Omgeetaal, Uniek.

·         KONSONANTE - ‘n Groep van Tienduisend, wat R1 000 elk of R100 per maand vir ’n jaar bydra.

·         STAATMAKERS  - skenkings van R250 of R500 of eie keuses.

 

Alle bydraes is welkom vir hierdie besondere verdienstelike saak. Enige persoon kan ook onder die drie kategorieë “anoniem” skenk. Die bankbesonderhede is:

Naam: Stellenbosch-Antwerp Trust         (Stb Antwerpen Trust vir EFT-betalings)

Bank: ABSA, Stellenbosch

Taknommer: 632005

Tjekrekening: 40-7258-3303

 

Donateurs kan ook vinnig en maklik hul skenkings aanlyn opstel op die bankveilige GivenGain-donasieblad, vanuit hul SA bankrekening of kredietkaart.

 

Loodskomitee: Willa Boezak, Danie Marais, Abraham H de Vries, Abraham Phillips, Ebbe Dommisse, Hermann Gilliomee, Rhoda Kadalie, Danie Rossouw, Phillip Spies.*

 

*Onder die bekendes wat GelykeKanse se beswaarskrif onderteken het, tel Nobelpryswenner J M Coetzee, Breyten Breytenbach, oud-pres. F W de Klerk, premier Helen Zille, lord Robin Renwick, Flip Smit, Dele Olojede, regter Fritz Brand, Sonja Loots, John Miles, Ampie Coetzee, Tony Leon, Eno Adams, Sarina, Tan Twan Eng, Dominique Enthoven, Theuns Eloff, R W Johnson, Rolanda Marais, Anton Goosen, Brendan Peyper, Dave Pepler, Marié Heese, John Cartwright, Sarah Theron, Albert Maritz, Dorothea van Zyl, Dan Sleigh, Deon Geldenhuys, Dine van Zyl, Francis Galloway, Frans Marx, Clive Keegan, Laurinda Hofmeyr, Danie van Wyk, David Welsh, Herman Binge, John Kane-Berman, Eloïse Wessels, Paul Colditz, Douglas Gibson, Dave Dalling, Theo du Plessis, Tertius Kapp, Elsa Joubert, Charles J Fourie, Pieter Louw.  (Sien lys van meer as 4 000 name by http://gelykekanse.com/.)

No comments:

Post a Comment