Sunday 30 October 2016

Afrikaans by US: ‘Dis werklik jammer,’ sê oud-viserektor


Laat ons hoop dat Afrikaans in sy wentelbaan sal bly voortbestaan, en dat ons nie sal toelaat dat dit ontwentel nie.”

Só het prof. Christo Viljoen, voormalige viserektor aan die Universiteit Stellenbosch (US), Donderdagaand by die Voortrekkermonument gesê nadat hy deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) vir sy bevordering van Afrikaanse onderwys en opleiding vereer is.

Viljoen (79), met ’n doktorsgraad in ingenieurswese aan die US, sê dis geen verskoning om in Engels te wil studeer net omdat die bedryf en handboeke in Engels is nie. “Ons het ook uit Engelse handboeke geleer, maar dis in jou moedertaal wat jy die kennis ontsluit en verstaan.”

Viljoen het die eerste Afrikaanse handboek oor elektronika geskryf en sê hoewel die bedryf hoofsaaklik Engels is, het baie van die suksesvolste ingenieurs hul verhandeling en doktorale proefskrif in Afrikaans voltooi.

Viljoen is in 1969 as dekaan van die fakulteit ingenieurswese aangestel. Hy het ook Technopark in Stellenbosch gestig, en talle vakwetenskaplike navorsingsartikels en twee woordeboeke geskryf. Hiervoor het hy in 2012 ’n toekenning vir sy bydrae tot kulturele ontwikkeling ontvang van die Wes-Kaapse minister van kultuur.

“Dit is werklik jammer dat Afrikaans nou aan die agterspeen sal suig by die US,” sê Viljoen oor dié universiteit se aankondiging dat hulle hul taalbeleid vir 2017 hersien. “Die universiteit het nie almal se insette in ag geneem toe hulle die besluit geneem het nie. Maar ek is vas oortuig Gelyke Kanse se hofaansoek sal slaag.”

Dié organisasie het op 30 September ’n aansoek by die hooggeregshof ingedien om die US se taalbeleid te laat hersien.

 

Hulle eis dat die US se nuwe taalbeleid, wat op 22 Junie deur die senaat en die raad aanvaar is, hersien en tersyde gestel word; dat die US gelas word om die taalbeleid en taalplan wat op 22 November 2014 deur die raad goedgekeur is, toe te pas; en dat die hof verklaar dat Afrikaans “nie meer ’n gelyke vlak” aan die US het nie. Vereer: Prof. Christo Viljoen

BRON: http://media24.newspaperdirect.com/epaper/viewer.aspx

 

 

No comments:

Post a Comment