Monday 14 November 2016

SUPERMAAN


Die nag wat pas verby is, was ‘n laaste-keer nag.

 

“Die maan,” het ons gisteraand ná die weervoorspelling op TV vir mekaar gesê. “Kom ons gaan kyk of ons die supermaan kan sien. ”

 

Het ons ouers die laaste keer toe die maan so na aan die aarde in sy wentelgang was, geweet dat hulle iets wonderliks sien?  Het hulle God toe vir sy almag en sy grootheid geprys?

 

 In daardie verre supermaannag gedurende ons albei se vroegste kleuterjare, het Hennie en ek nog nie van goed of kwaad geweet. En sekerlik sal ons twee — en die meeste van u wat ook gisteraand buitentoe gegaan het om die supermaan te sien, dit nooit weer gedurende ons aardse lewe so sien nie.

 

Die nag wat pas verby is, was vir ons ‘n laaste-keer nag.

 

Tussenspel: Watter van die volgende drie aanhalings oor die maan raak ‘n snaar in jou siel aan? Watter een groei op jou of in jou? Watter een wil nie weggaan en vergete raak nie? Die een wat iets van die eensaamheid of leed van jou siel sê,  die een oor die waarheid, of die een oor die effek van die geheime dimensies van ons menswees op ons hele bestaan?

 

·             There are nights when wolves are silent and only the moon howls. — George Carlin.

·             Three things cannot be long hidden: the sun, the moon and the truth. — Buddha.

·             There is a side of the Moon which we never see, but that hidden half is as potent an actor in causing the ebb and flow of the Earth’s tide as the part of the moon that is visible.— Max Heindel.

 

En die Bybel?  Wat sê die Bybel oor die maan?

 

In Ps 148 sê die Bybel iets VIR die maan.  En ook vir die engele, die hemelwesens, die son, sterre, uitspansel, watermassas in die lug, seediere, oseane, weerlig, hael, sneeu, miswolke, stormwinde, berge, heuwels, vrugtebome, seders, wilde diere, vee, voëls, insekte, kruipende diere, konings, volkere van die aarde, regeerders, leiers, celebs, jong manne en meisies, grysaards,  alles en almal wat leef en bestaan:   

 

Ps 148:1-13

 

Prys die Here! Prys die Here vanuit die hemele, prys Hom in die hoë hemel!

Prys Hom, alle engele, prys Hom, alle hemelwesens!

Prys Hom, son en maan, prys Hom, alle sterre!

Prys Hom, hoogste hemele, en waters in die hoë hemelruim!

Laat hulle die Naam van die Here prys, want Hy het beveel en hulle is geskep;

Hy het hulle vir altyd hulle vaste plek gegee, vir hulle 'n orde neergelê waarbuite hulle nie kan beweeg nie.

Prys die Here van die aarde af, seediere en al die oseane,

weerlig en hael, sneeu en miswolke, stormwind wat sy opdrag gehoorsaam,

berge, al die heuwels, vrugtebome, al die seders,

wilde diere, al die vee, al wat kruip of vlieg,

konings van die aarde, alle volke, vorste, alle regeerders van die aarde,

jong manne en meisies, grysaards saam met seuns!

Laat hulle die Naam van die Here prys, want sý Naam alleen is hoog verhewe, sy majesteit strek oor die aarde en oor die hemel.

 

Ons het gisteraand opgekyk na die handewerk van die God van hemel en aarde, die Skepper, die Ewige.

Die Bybel sê ons moet die ewige God prys.

Al doen ons nou niks verder nie, al gaan ons nou geen tree verder nie, al beplan, hoor en bedink ons nou niks verder nie,  ons moet die God van hemel en aarde prys.

 

Konings van die aarde, alle volke, vorste, alle regeerders van die aarde,

jong manne en meisies, grysaards saam met seuns!

Laat hulle die Naam van die Here prys, want sý Naam alleen is hoog verhewe, sy majesteit strek oor die aarde en oor die hemel.

 

Al verstaan ons tans niks nie, al hoor ons tans niks wat vir ons soos gebedsverhoring klink nie,  al is dit tans stukkend in ons, al voel ons tans magteloos en onseker, al weet ons nie verder nie, ons moet die God van hemel en aarde prys.

 

Ps 96:10-13:

  Verkondig onder die nasies: "Die Here regeer; die wêreld staan vas, dit wankel nie; die Here sal die volke regverdig oordeel."

 

Die hemele moet bly wees en die aarde moet juig, die see en alles daarin moet druis,

die veld en alles daarop moet jubel, al die bome in die bos moet hulle verheug

voor die Here, want Hy kom, Hy kom om oor die aarde te heers. Hy sal oor die wêreld heers met regverdigheid, oor die volke met billikheid.

 

Die nag wat pas verby is, was vir ons ‘n laaste-keer nag.

Maar vanoggend kan vir baie van ons ‘n eerste-keer oggend wees. Of die oggend van ‘n nuwe begin, ‘n nuwe ingesteldheid, ‘n nuwe besluit:

 

·             Ek sal die Here loof.

·             Ek sal bly wees en juig, want: Hy kom. Jesus kom weer. Hy kom om oor die aarde te heers. Hy sal oor die wêreld heers met regverdigheid, oor die volke met billikheid.

 

Ons het pas vir mekaar gevra:

Watter van die volgende drie aanhalings oor die maan raak ‘n snaar in jou siel aan? Die een wat iets van die eensaamheid of leed van jou siel sê,  die een oor die waarheid, of die een oor die effek van die geheime dimensies van ons menswees op ons hele bestaan?

 

·             There are nights when wolves are silent and only the moon howls....

·             Three things cannot be long hidden: the sun, the moon and the truth...

·             There is a side of the Moon which we never see, but that hidden half is as potent af actor in causing the ebb and flow of the Earth’s tide as the part of the moon that is visible?.

 

Die een oor die drie dinge wat nie lank weggesteek kan word nie, raak my diep.

Die Skrif sê immers dat alles wat ons in die geheim doen, aan die lig sal kom:

 

Pred 12:14.  God sal rekenskap eis oor alles wat gedoen word, ook oor wat in die geheim gedoen word, of dit goed is of kwaad.

Mark 4:22.  Daar is geen geheim nie, of dit moet openbaar gemaak word; en daar word niks geheim gehou nie, of dit moet aan die lig kom.

Luk_8:17  Daar is niks geheim wat nie openbaar sal word nie, of weggesteek wat nie bekend sal word en aan die lig sal kom nie.

Heb 4:13  Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.

 

En, o, die Skrif sê ook dat daar ‘n verborge plan tot ons redding was, en dat dit in Jesus Christus aan die lig gekom het.  Dat die Geheim gesien kan word:

 

Ef 3:9  Ek moet aan almal bekend maak hoe God, die Skepper van alle dinge, nou sy verborge plan uitvoer nadat Hy dit deur al die eeue geheim laat bly het.

 

Die Skrif sê dat geeneen van ons moet stilbly oor Jesus Christus, oor sonde, verlossing en oordeel nie.

 

Op 22:10  Verder sê hy vir my: "Moenie die woorde van hierdie profetiese boek geheim hou nie, want die eindtyd is naby. ”

 

Gisternag, met die wonderbare maan bo ons, het die Skrif vir ons ‘n boodskap gehad:

 

 

Kol 1:12-20.

  Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig. Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet.

Deur die Seun het ons die verlossing verkry, die vergewing van ons sondes.

 

Kol 1:15  Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping.

 

God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en vir Hom geskep. Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand. Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan, Hy is die Eerste, die Een wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem.

 God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.

 

Gisteraand met die supermaan, en vanoggend ná die supermaan het die Skrif één vasstaande, één ononderhandelbare boodskap aan ons:

 

Eer die Seun! 

Eer en aanbid Jesus Christus, die Messias, die Gesalfde, die Enigste deur Wie ons gered kan word.

 

 

 

No comments:

Post a Comment