Friday 25 November 2016

OOGAPPEL deur Maretha Maartens


 
 

‘n Gesprek tussen ‘n gelowige wat die lewe nie meer verstaan nie en sy God

 Izak de Villiers het ‘n interessante titel aan een van sy digbundels gegee:  VERVREEMDELING.  In dié titel hoor ‘n mens iets van uit-wees, disoriëntasie, die gevoel van uitsluiting, alleenheid, onbegrip, groeiende ontnugtering, verwese voel.  Die digter voel soos ‘n vreemdeling in die gemeenskap, kerk, die wêreld van besige, gewone, jonger, selfversekerde mense.  Hy voel vervreemd, onbegrypend, soos iemand wat nie inpas nie. Hy, ‘n baie slim teoloog, skrywer, eks-tydskrif- en koerantredakteur, voel asof hy minder en minder van die lewe verstaan.

Was jy al op ‘n plek in jou lewe waar jy eintlik niks meer verstaan nie?

Verder: was jy al op die plek van noodkrete?


Dawid was daar gewees, toe skryf hy Psalm 17. Psalm 17 sou perfek in Izak de Villiers se digbundel, VERVREEMDELING, ingepas het.

 

Kom ons lees dit, met so hier en daar ‘n stukkie toeligting tussen hakies.  Kyk en luister spesifiek vir een woord in die psalm: die woord “oogappel.” Merk dit, hou dit in gedagte, want ná die lees van Dawid se beskrywing van ‘n vervreemdeling (‘n onbegrypende gelowige), gaan ons weer by die woord ”oogappel” uitkom.

 

Psalm 17

'n Gebed van Dawid. Luister tog, Here (Jahwe, EK IS, die Ewige, God van Israel en die verbond), na my regverdige saak, let op my hulpgeroep.

Hoor tog die gebed wat ek in alle opregtheid bid.   U sal  (as Regter) uitspraak lewer in my guns: u oë sien immers self wat reg is.

As U my sou toets, my selfs in my slaap sou ondersoek, my deeglik sou keur, sou U (as Regter) niks verkeerds (geen waarheid in my teëstanders se aantygings) vind nie. Oor die doen en late van mense het ek niks verkeerds gesê nie (het ek my van kwaadpraat weerhou): ek het my aan u bevel gehou. Elke stap van my was vas op die koers wat U aangewys het. My voete het nie daarvan afgewyk nie. (Ek het nie die praktyke beoefen, voorbeeld gevolg van mense wat verwoes en vernietig nie.)

Ek roep U aan, want U sal my antwoord, my God! Luister tog (Buig af)  na my en hoor wat ek sê.  Toon u wonderlike trou, U wat almal help wat vir hulle vyande by U skuil.

 

Ps 17:8-9, ANV.  Beskerm my soos die appel van u oog, steek my weg in die skaduwee van u vleuels vir die goddeloses wat my wil oorweldig, die doodsvyande wat my omsingel.

 

Ps 17:8-9, NLV (CUM),

Beskerm my soos die appel van u oog (u kosbaarste besitting). [Deut 32:10; Sag 2:8] Bedek my (beskermend, koesterend) in die skadu van u vlerke, [Ps 91:4; Matt 23:37] van bose mense wat my aanval, van wrede vyande wat my omring.

 

 

Ps 17:10-15

 Sonder enige meegevoel, met monde wat aanmatigende dinge sê, omsingel hulle my  waar ek ook gaan. Hulle soek my ondergang. Hulle is soos leeus, oorgehaal om te verskeur, soos jong leeus wat iets voorlê.

 

(OPMERKING: Nou vra die Psalmskrywer die Here om reg en geregtigheid te laat geskied:  op Ou-Testamentiese, voor-Christelike wyse, want vir Jesus Christus het hy nog nie geken nie.  Hier volg dus nou ‘n Ou-Testamentiese vergeldingsbede. Die wet of beginsel van regverdige, verdiende vergelding (Lex talionis), waarvolgens die  dader— die skuldige en ook die regverdige —straf of beloning in direkte verhouding tot sy dade ontvang, [Eks 21:24-25; Deut 19:21; Spr 12:13-14] word herhaaldelik in die Psalms gevind,  o.a. in  Ps 7:4-6, 16-17; 9:16; 35:8; 37:14-15; 57:7; 59:13; 69:23; 141:10)

 

 

Kom tog, Here, staan hulle voor, dwing hulle op die knieë. Red my met u swaard uit die mag van die goddeloses,  met u eie hand, Here, van hierdie mense. Laat hulle ontydig omkom, sny hulle lewens af; laat hulle hulle vol eet aan die onheil wat U vir hulle gereed hou; laat daar oorgenoeg wees vir hulle kinders en laat daar nog oorbly vir die kindskinders.

 

(OPMERKING: In Matt 5:38-42 verklaar Jesus Christus Lex talionis as uitgedien en gee Hy ‘n nuwe beginsel, gedragskode en opdrag aan sy volgelinge. Ons ou-Testamenentiese  psalmskrywer beroep hom egter in die lig wat hy gehad het, op die regverdigheid van die Here.  Hy glo dat die Here hom, die Psalmskrywer, gunstig gesind sal wees, want as wetsgehoorsame Israeliet het hy God in opregtheid en gehoorsaamheid gedien.)

 

 Maar wat my betref, omdat die reg aan my kant is, sal ek weer voor U staan. As ek wakker word (uit die dood), sal ek my verbly in u teenwoordigheid. 

 

(OPMERKING: Die feit dat sommige Ou-Testamentiese gelowiges op lewe ná die dood gehoop het, blyk uit o.a. Ps 16:9-11; 17:15; 49:15-16; 73:23-24  en Dan 12:2. In Hand 2:25-28 pas Petrus die woorde van Ps 16:9-11 toe op die opstanding van Jesus Christus.  Petrus grond sy Skrifuitleg op Jesus Christus se woorde dat alles wat in die wet van Moses, die profesieë en die psalms oor Hom geskryf is, vervul moes word.) [Luk 24:44]

 

 

HOE LYK ‘N  OOGAPPEL?

 

In Ps 17:8-9 bid Dawid dat die Here iets baie spesifieks vir hom moet doen:

Ps 17:8-9, ANV.  Beskerm my soos die appel van u oog, steek my weg in die skaduwee van u vleuels vir die goddeloses wat my wil oorweldig, die doodsvyande wat my omsingel.

 

Ps 17:8-9, NLV (CUM),

Beskerm my soos die appel van u oog (u kosbaarste besitting). [Deut 32:10; Sag 2:8] Bedek my (beskermend, koesterend) in die skadu van u vlerke, [Ps 91:4; Matt 23:37] van bose mense wat my aanval, van wrede vyande wat my omring.

 

Wat sou jy doen as ek jou so vra om jou oogappel te beskerm?

Jy sou ‘n oogskut opsit, ‘n beskermende bril dra, soos iemand wat bosse met ‘n meganiese bossiesnywer snoei of uitsny.  Soos iemand wat sweis of ‘n brand gaan help blus.

 

 

In Hebreeus verwys die term “oogappel” nie hierna nie.

 

In Hebreeus word “oogappel” vertaal met: “Die figuurtjie, klein mannetjie van die oog.” Dit verwys na ‘n weerkaatsing in die oë van die een met wie jy in gesprek is.

 

Die mens sien sy eie beeld in die oë van iemand wat net op hom fokus.  

Dawid vra:  Here, maak my, die een wat nou glad niks verstaan nie, die klein figuurtjie in u oë.

Kyk vir my,  maak mý, die klein figuurtjie (mannetjie) in die gevoeligste deel van u oë, nou die middelpunt van u aandag en u sorg.  Sien my volledig raak, en help/beskerm/sorg vir my.

 

Wanneer laas het jy iets so moois, iets van soveel belang gehoor?

 

Oogappel-wees gaan oor ware, egte, intens betrokke verhoudings.  Dit gaan oor interaksie, vertroue, jou plek in iemand anders se lewe, werklikheid en hart.

 

Jy weet mos dat ouers van outistiese kinders iewers agterkom dat hulle kindjie nie oogkontak maak nie.  Hulle is nie die klein figuurtjies in hulle kind se pupille nie.  Hulle weet iets is verkeerd:  mense moet klein figuurtjies in ander mense se pupille wees.

 

Jy weet mos dat een van die duidelikste  tekens van versteurde verhoudings in die huwelik, werksplek, tussen ouer en kind, in die gemeente, in die kerkraad, in onderhoude of waar ook al, die afwesigheid of progressief tanende oogkontak is.  As jy en jou huweliksmaat mekaar met die vermyding van oogkontak straf en mishandel,  as jy en ‘n kollega oogkontak vermy en wedersyds nie die klein figuurtjie in mekaar se oë wil wees nie, is daar iets groots verkeerds.  Daar is nie meer ‘n opregte vertrouensverhouding nie.

 

Wat ‘n eenvoudige waarheid:

Wanneer jou huweliksmaat iets met jou wil deel, wil hy/sy die klein figuurtjie in jou oë wees, jou oogappel. Hy/sy wil kosbaar, waardevol voel.  Jy gee waarde aan iemand anders deur van hom/haar jou oogappel, die klein figuurtjie in jou oë, te maak.

 

Wanneer jou kind by jou kom sit en met jou begin gesels, wil hy/sy die klein figuurtjie in jou oë wees, jou oogappel. Jy onderskryf jou toewyding as ouer aan hom, jou omgee en respek vir jou kind, deur hom jou oogappel, die klein figuurtjie in jou pupille, te maak.

Nou vra Dawid: Here, ek is die klein figuurtjie in u oë.  U is so groot, so geweldig, so magtig en sterk en genadig.  Ek weet ek pas in u goedheid, teerheid, liefde, diepste erbarming, ontferming in.  Daarvan verseker U my oor en oor in u Woord.    

 

Beskerm my soos die appel van u oog (u kosbaarste besitting). [Deut 32:10; Sag 2:8]

 

 

Bedoelende:

·       Fokus in hierdie noodsituasie direk op my, Here.  

·       Moet u oë nooit van my af wegdraai nie.

·       Sorg vir my, help my.

·       Vou my toe in u liefde, soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke.

 

Sal God dit vir jou en my doen as jy en ek dit so vir Hom vra?

Ongetwyfeld.  Hy sê dit in sy Woord vir elkeen wat tot Hom roep.

 

 

Mat 7:7-11

  Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word,

want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.

Watter mens onder julle sal vir sy seun 'n klip gee as hy brood vra, of 'n slang as hy vis vra?

As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?

 

Vra, klein figuurtjie in God se oë.

Hy kyk vir jou, Hy sien jou raak asof jy die enigste mens op aarde is vir wie Hy kyk.

Hy sal jou help.

 

 

 

 

No comments:

Post a Comment