Dit is droër as droog in die Vrystaat.
Waar ons op die oop vlaktes woon, is die landskap tans bruinwit.
Gister kyk ek boontoe en sien dat ‘n vink besig is om sy nessie aan ‘n
populierboom se tak te bou. Die groen van die gras wat hy as
weefmateriaal gebruik, is soos ‘n vreemde, nou byna onbekende kleur in die
kakiebruin landskap waaraan ons nou al byna twee jaar lank woon en waaraan ons
gewoond geraak het.
Koel briese ken ons nie meer nie. Wanneer die wind hier teen
twaalfuur, eenuur in die middag opkom, is dit asof dit vanuit ‘n vuuroond kom.
Die winde wat nou hier waai, is storm- en rukwinde wat aan die perdestal se dak
ruk en sinkplate stukkend skeur of losruk. Boorgate droog op; die
watervlak in die meeste van die streek se opgaardamme het tot onder 25% gedaal.
Lyk jou lewe tans só?
Christen, en vasgevang in ‘n bruin seisoen?
Duisende, tienduisende gelowiges se lewe lyk tans inderdaad soos
die natuur, die landskap, die watervlakke en die huidige landbouvooruitsigte in
die Vrystaat
- Die familie- of gesinslewe, die
werksmilieu of vriendekring wat jy geken het, het dalk vanjaar finaal en
permanent verander. Iemand vir wie jy baie lief was — ‘n ma, pa,
lewensmaat, kind, skoonseun, skoondogter, kleinkind, vriend of vriendin
— of kollega met wie jy jare lank saam gewerk het, het gesterf en sy
of haar plek sal vir altyd op aarde leeg bly.
- Jou entrepreneurs- onderneming
het dalk soos ‘n ou seilskip op die rotse geloop. Die ekonomiese
storm was te erg gewees, die golwe en die wind te wild.
- Jy betree die einde van die jaar
dalk as gehawende mens. As broos, steeds getraumatiseerde, moedelose of
neerslagtige gelowige. As iemand wat so seer gekry het, soveel deurgemaak
het, soveel het om te verwerk, soveel verloor het, so geskok,
ontnugter, siek of getraumatiseer is, dat jy morsdood voel.
Ons kan ure lank praat oor die dooie gevoel wat uiteindelik, ná
baie pyn, trauma, verliese, ontnugterings, vernedering en mislukkings van ons
almal besit kan neem. Ja, ook van Christene. Ja, ook van kinders van die
Here. Dit is hoe Elia gevoel het toe Isebel se boodskapper met die
koningin se doodsdreigement by hom aangekom het.
1 Kon 19: 1-8.
Die storie van ellende en brood
Agab het vir Isebel vertel wat Elia alles gedoen het, ook dat hy
al die profete om die lewe gebring het. Toe het Isebel 'n boodskapper na Elia
toe gestuur om vir hom te sê: "Mag die gode my om die lewe bring as ek nie
môre teen hierdie tyd met jou gemaak het soos jy met die profete nie."
Elia het bang geword en ter wille van sy lewe gevlug. Toe hy by
Berseba in Juda kom, het hy sy slaaf daar agtergelaat. Hy self het egter 'n
dagreis ver die woestyn in gegaan. Daar het hy onder 'n besembos gaan sit en
gewens hy gaan dood. Hy het gesê: "Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe,
want ek is niks beter as my voorvaders nie."
Toe gaan hy lê en hy het daar onder die besembos aan die slaap
geraak. Toe hy hom weer kom kry, skud 'n engel aan hom en sê: "Word
wakker! Eet!"
Toe hy opkyk, sien hy by sy kop roosterkoek wat op warm klippe
gebak is, en 'n kruik water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. Die
engel het 'n tweede keer aan hom geskud en gesê: "Word wakker! Eet! Anders
sal die pad vir jou te lank word."
Toe staan hy op en hy eet, en deur die krag van die kos kon hy
veertig dae en veertig nagte lank loop tot by Horeb, die berg van God.
Elia se bruin seisoen
Dit het ellendig gegaan met Elia, God se getroue profeet..
God se profeet was in sy eie bruin seisoen, en alles het net te
veel vir hom geword.
Was daar ‘n sterk tou beskikbaar, sou Elia homself kon ophang.
- Hy laat sy slaaf in Berseba
agter. Sommige van ons sal dalk sê dat hy sy slaaf nie aan gevaar wou
blootstel nie, maar daar is ook ‘n tweede moontlikheid: Elia wil niemand
meer sien nie, niemand meer met hom hoor praat nie, deur niemand meer
bemoedig of vermaan word nie. Hy wil net van alles en almal af wegkom.
- Hy gaan ‘n dagreis ver die
woestyn in, waar hy onder ‘n besembos gaan sit en aan niks anders as
doodgaan dink nie. Hy praat met die Here, maar oor sy situasie het
hy net een voorstel: Laat my sterf. Ek wil sterf. Ek sien nie
meer kans nie.
- Hy gaan lê. Hy krul homself
op, lê in die woestynsand, gee nie meer om nie. Dit is die einde, dink hy
of hoop hy.
- Maar sy reis is nie verby
nie. Die engel van die Here kom fnuik sy sterfplan, sy
handdoek-ingooigedagte, sy konsep dat hy in uiterste ellende mag doodgaan.
Die engel van die Here kom steek ‘n stokkie — nee, ‘n dik doringtak
— voor Elia se passiewe selfmoordpoging, want wat anders kan ons dit
noem?
- Hier gaan jy nie bly lê nie, sê
die engel van die Here — heel moontlik Jesus Christus in sy
Ou-Testamentiese verskyningsgestalte — vir Elia. Eet, voed jou
uitgeputte, verhongerde en gedehidreerde liggaam, en gaan Horeb toe.
Gaan na die berg van God. Gaan Horeb toe (want as jy God gaan soek,
sal jy Hom sekerlik vind. Hy sal Hom laat vind.)
En jy? En ons?
As daar maar vir my ‘n Horeb was, ‘n berg waar ek God in my
ellende sou kon vind! dink jy dalk. Elia kon die berg in die verte sien:
hy kon opstaan en daarheen loop. Hy kon God letterlik daar gaan ontmoet.
Hy kon God gaan soek, en God sou hom deur Elia laat vind. Maar wat van
my? Ek sit onder my besembos, en vir my is daar nie ‘n Horeb nie.
Nee, dalk is daar nie. Maar vir my en jou, God se kinders op
grond van wat Christus vir ons gedoen het, is daar ‘n belofte, ‘n absolute
sekerheid, ‘n versekering so solied soos Tafelberg. Nee, meer solied en
meer onskuifbaar as Tafelberg:
Nader tot God en Hy sal tot julle nader. — Jak 4:8
Daar is net een voorwaarde: Glo dat God bestaan. Sê dit
hardop. Sê dit in jou hart en denke. Sê dit vir iemand anders. Hou op om
teen sy bestaan te stry, om die Bybel as verkeerd te bewys. Hou op om die
bestaan van God te betwyfel omdat jou lewe nie uitgewerk het soos wat jy dit
sou wou hê nie. Hou op om die bestaan van God te betwyfel omdat jy siek
bly, swaarkry, verkrag is, beroof is, ‘n dierbare verloor het, groot verliese
gely het. Hou op om menslike emosies en jou eie persepsies van die ewige God
soos ‘n beesvel of dik kombers oor die Skrif te gooi en uitdagend te verklaar:
“In die beesvel/dik kombers is God soos Hy regtig is. In die beesvel/dik
kombers is al die redes waarom niemand God kan vertrou, aanbid of seker van sy
bestaan kan wees nie.”
In die bruin seisoen, in jou besembostyd, kan jy kies of jy ‘n
beesvel/dik kombers oor die Skrif wil gooi en daarop wil fokus. Of jy jou
ongeloof oral met jou wil rondsleep en dit telkens wanneer God se woorde tot
jou kom, oor die ewige, onveranderlike Woord wil gooi.
Jy sal God vind en Hy sal Hom deur jou laat vind as jy kies om
die beesvel/dik kombers van menslike emosies, gekoesterde ongeloof en eie
konsepte en persepsies van God op te rol en op te vou en eenkant te sit.
As jy kies om God se bestaan te erken en om met Hom te kommunikeer, al het jy
hóé seer gekry, hóe baie verloor en hóé verwond hier in die woestyn
aangekom. Die Bybel sê immers:
As 'n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil.
Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.
— Heb 11:6.
En Jesus Christus sê:
Geseënd is die man wat aan My nie begin twyfel nie. — Luk
7:23.
Jesus sê: Hoe gelukkig, hoe begenadig, hoe goed gaan dit wees
vir elkeen wat nie die bestaan van Jesus Christus betwyfel nie. Vir
elkeen wat sy woorde aanvaar. Vir elkeen wat op Hom fokus, Hom vertrou,
sy opdragte uitvoer, nie aanstoot aan Hom neem nie. Hoe lig word dit in
die lewe van elkeen wat die beesvel/dik kombers van menslike emosies,
gekoesterde ongeloof en eie konsepte en persepsies van God oprol en opvou,
eenkant sit en die Woord eet soos wat Elia daardie roosterkoeke wat die engel
van die Here hom aangebied het, moes eet.
Eet jou brood, kind van God
Hier is Woordbrood, roosterkoeke vir elke kind van God wat
vandag opgekrul onder ‘n besembos lê en van plan was om net daar te bly.
In en deur Jesus Christus is jy regverdige. In jou
eenheidsband met Jesus, in Christus, in union with Christ, net in jou
Verlosser, in Christus se wonderbaarlike Eenwees met jou deur sy Gees, is daar
niks wat tussen jou en God staan nie. Hy gaan jou altyd liefhê, altyd
Syne noem, opwek uit die dood, eendag in heerlikheid by Hom laat wees.
Wat doen God op die aarde vir die regverdiges?
Wat laat Hy die regverdiges op die aarde beleef?
Hier is jou hemelbrood, regverdige in Christus.
Hier is jou voedsel vir die pad vorentoe, jou kos vir die reis
na die woonplek van die Allerhoogste, jou finale bestemming. Dit is die
brood wat nooit muf word nie, die voedsel wat duisende jare lank vars bly en
voed en versterk:
Job_4:7 Dink daaroor na: het iemand ooit onskuldig te
gronde gegaan? Waar is regverdiges ooit uitgewis?
Job_36:7 Hy sorg vir die regverdiges.
Eet jou brood, kind van God. Anders word die pad onnodig
lank vir jou.
Ek het toevallig vandag hierop afgekom, maar dis of dit spesiaal vir my geskryf is. Baie dankie.
ReplyDelete