Monday 14 November 2016

NA BYKANS 50 JAAR WEER OP ALDAM.


Ons sit Saterdagmiddag, 12 de November 2016, in die Aldam, se saal, naby Ventersburg, in die Vrystaat.  Net 3 van ons kyk die Rugbytoets tussen die Springbokke en Engeland. Die Volkslied van SA word gesing. Nou net 4 reëls in Afrikaans. Hoe anders was dit nie bykans 50 jaar gelede nie. In dieselfde saal het ons in 1968 ‘n Nasionale Jeugbond Kongres van die OVS gehou. Toe het ons in ons breisende Jeug entoesiasme gelewe. Ons het die helfte van die saal gevul. Ons was Afrikaner plesierig! Ons het hoog emosioneel gesing en gepraat. Afrikaans was al taal, die NP al Politieke Party, Volkskas al Bank, ens. Ons het landsake gedebateer. Mosies en Beskrywingspunte was aan die orde. Vergaderingsprosedure is gevolg. Ons het gevoel asof ons SA regeer. Daar was debatte net in Afrikaans, maar ook redenaarskompetisies, vreemd genoeg in Afrikaans en Engels.  Twee Beskrywingspunte wat ek kan onthou was: ‘n Versoek aan die Regering vir die instelling van ‘n Ministerie van Jeugsake deur Gert Kruger van Reitz, en my idee van die ontsouting van die seewater as antwoord op ons watervraagstuk. Nouja die destydse NP Regering het via die burokrasie geantwoord dat die 2 projekte te duur is om te implementeer.

Natuurlik was daar persoonlikheidbotsings en individuele politieke aspirasies binne die vergadering. Die vekiesing van die leier, onder-leier en Hoofbestuur was die kanaal waarlangs al die persoonlike motiewe gekanaliseer is.

Na 50 jaar is Afrikaner-nasionalisme ‘n historiese feit. Die entoesiasme vir die Bokke in 2016 is anders as onder die vorige bedeling. Destyds sou ons die Engelse, die veroweraars, op die Rugbyveld wys dat ons onoorwinlik is. Nou is dit irrelevant. Dr. Frank Chicane was reg toe hy gesê het dat die stryd tussen die  Afrikaners en die Engelse uitgespeel het in die 1976 se Soweto-opstand. Toe is Afrikaans gebruik om vir die Engelse te toon dat  ons taal gelykwaardig en ten volle ‘n taal gelykstaande aan hulle taal is.

Nou sit ons in die donkersaal op Aldam, want die son van Afrikaner-nasionalisme het ondergegaan. Sal dit ooit weer opkom?  

No comments:

Post a Comment