Sunday 22 January 2017

GESKIEDENIS OP PETRUSBURG HOËRSKOOL IN ONS TYD.


Agt-en-vyftigjaar gelede moes ek op skool kies tussen Houtwerk of Geskiedenis. Ek groet mnr Marais, sy bypassende bynaam was hamer, dadelik, laat die skaaf net op die Houtwerklessenaar, en vertrek met blydskap na die Geskienisklas. Mnr J. van der Walt het die blouboek, Geskiedenis vir die Senior Sertifikaat, geken. Hy was ‘n vurige nasionalis. Hy het die opkoms van nasionalisme in Europa met lekkerte aangebied. Dit was Garabaldi en Cavour in Italië, Bismarck en die unifikasie van Duitsland, met die geweldige rol wat die Zolverein gespeel het. Die Franse Revolusie was maar net die personeel wat in Frankryk verander het, die Koning is met Robbespiere, hoop dit is korrek gespel, vervang, maar die lewe het nie wesenlik verander nie. Revolusie is eintlik ‘n illusie! Die naam is verander van die Ou Orde na die Nuwe Orde, van die koninklikes, adel en die proletariaat, na die nuwe regeerders. Ons Onnie was teen die Unifikasie van Europa, want hy het die Kongres van Wenen afgemaak en dit as die onheilige alliansie bestempel.  As hy vandag gelewe het sou hy gesê het, ek improviseer nou, ek het julle mos gesê nasionalisme wen altyd, daarom het die Engelse geBrexit, en Trump het gewen.  

Hy het die Russiese rewolusie van 1917 behandel. Die rooi-gevaar was destyds, in ons tyd op skool, nie so akuut nie. Moontlik was die Tsaar nie te nasionalisties nie? Maar ek het in die jare Radio Moskou se Engelse Nuus om 9nm. op die Kortgolf geluister. Tog was die nuusdiens nie so sterk ideologies nie, want ek is nie tot die Kommunisme bekeer nie. Toe was daar nog nie FM nie, net AM en die Kortgolf.  

Ons Onnie, se SA geskiedenis se retoriek, was intens. Die Anglo-Boereoorlog was die Oorlog van onreg. Die Boere se aanvanklike oorwinnings was geromatiseer. Daar was die Verraaiers, Hensoppers, Hans-Kakies, en die Bittereinders. Die Engelse het die Diamantvelde van ons gesteel, het ons aangeneem. Dit klink nou weer so aktueel met al die retoriek deesdae oor grond en hulpbronne.

Wat ‘n heerlike vak wat deur ‘n begeesterde Onderwyser aangebied is!

No comments:

Post a Comment