Friday 10 February 2017

PETRUSBURG SEKONDÊRESKOOL: HANDEL AAN DIE BEGIN VAN DIE SESTIGS.


In 1961 sit ons in Matriek. Ons klas waar Handel aangebied is, was die laaste klas aan die Noorderkant van die Skool. Vir ons was die stoep hoog. Ons kon nie sommer goedsmoeds daar afspring nie. Gewoon gemeubileerd, met ‘n vierkantige tafel, dubbelbanke en allerhande prente van wol en handelsprodukte teen die mure geplak.

Die vak is die laaste periode op ‘n Vrydag aangebied. Dit was nou nie die beste tyd vir ons aandag nie. Voeg by ons Onderwyser was mnr. Pik le Roux. Vandag sou ons vir haatspraak aangekla word weens die byname van destyds. Maar daardie tyd was dit die inding.

Mnr. le Roux het sy bes gedoen om ons te onderrig oor Advertensies, die aard en eienskappe daarvan, dat een van die eienskappe van Advertensies moes wees om aandag te trek. Hy het ons van Ondernemingsvorme geleer, die aard en die eienskappe van eenmansake, vennootskappe, privaat maatskappye en publieke Maatskappye. Die voor en nadele van die Ondernemingsvorme. Dan was Landbou ook deel van die vak. Wol en die klassifikasie daarvan was hoog op die agenda. Die Geldstelsels en Banke was deel van die inhoud van die vak. Ons moes heelwat groei-syfers van die verskillende sake sektore onder die knie kry. Die Onnie het ons aandag geprikkel vir die sake-sektor. Hy het sy bes gedoen.

Maar ons was nou nie die aandag-gewende skoliere by uitstek nie. As mnr sy rug draai om op die swartbord te skryf  dan bars dit los in onderaardse geluide, psigosomatiese niesbuie, en soos Frans Erasmus, heel agter in die klas, dit hardop, voertsek, uitroep was die gort gaar. Ons as kinders het geen begrip gehad watter slegte uitwerking ons op so ‘n Onderwyser gelaat het wat sy bes probeer het nie. Maar ten spyte van ons gedrag, het hy my belangstelling vir die Ekonomie gevestig.   

No comments:

Post a Comment