“Laat hom aanneem
... want hy het goeie kos nodig.”
Om die verhaal op ons webblad te lees, gaan na seker.co.za.
Hier is
‘n verhaal en ‘n Skrifwoord wat tientalle sake in elkeen van ons aanspreek. Dit
is ‘n storie wat emosies in ons ontlok, ons by selfondersoek bring en ons oë
oopmaak. Dit is die storie van ‘n
opvreetbare klein seuntjie wat al meer in sy kort lewetjie gely het en meer
keer by die poorte van die dood omgedraai het as baie van ons in ons hele
lewe. Dit is ‘n storie wat ons direk
Bybel toe neem, en met ons eie lewe en eie keuses voor God laat staan.
Gister,
dink ek, het ek die dieptepunt van kommer en nood beleef.
Die storie van ‘n klein seuntjie
Klein
Happiness, die babaseuntjie van ‘n jong, diep gelowige Zimbabwiese ouerpaar, is terug in saal 10 B, Universitas hospitaal,
Bloemfontein. Hy is met spina bifida gebore en het ‘n suksesvolle
rekonstruktiewe operasie daarvoor ondergaan. Om breinvog uit sy koppie te dreineer, het hy
ook ‘n dreineringsbuis, die sg. shunt,
gekry. Die dreineringsbuis gee nog probleme; dit het verstop geraak, infeksie
het gevolg, Happiness was baie siek, is beter, en wag in die hospitaal op ‘n
volgende operasie met die oog op ‘n nuwe shunt.
Happiness
het helder ogies, reageer opgewonde op mense wat met hom praat, maak high
five’s met die handjie, woel en beweeg in die bababedjie rond en lê tans met
toegeplakte handjies, omdat hy die tydelike dreineringsbuis uit sy brein maar
net nie met rus kan laat nie. Dié storie, dat sy handjies toegeplak moes word,
laat hom huil van frustrasie.
Omtrent
tien van ons Andrew Murray gemeentelede was ure na Happiness se geboorte by sy
ouers gewees. Hulle was hartseer en
geskok oor hulle kindjie se gestremdheid. Hoe het hulle nie vir ‘n nuwe baba in
hulle lewe gebid nie, veral na die dood van hulle tweejarige dogtertjie in
Zimbabwe. Sy was kritiek siek, die ambulans het nie betyds opgedaag nie, en sy
het gesterf.
Ure na
Happiness se geboorte het die Here ons dit op die hart gelê om Joh 9:1-3 vir sy
ouers te lees:
Terwyl Jesus wegstap, sien Hy 'n man wat van sy
geboorte af blind was.
Sy dissipels vra Hom toe: "Rabbi, deur wie
se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s'n?"
En Jesus antwoord: "Dit is nie deur sy eie
sonde nie en ook nie deur sy ouers s'n nie, maar hy is blind sodat die werke
wat God doen, in hom gesien sal kan word.
Johannes
9: 3 het die Here se spesiale woord
geword aan Happiness, sy ouers en ons wat hulle broers en susters in die Here
geword het.
"Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie
deur sy ouers s'n nie, maar Happiness is met spina bifida gebore sodat die
werke wat God doen, in hom gesien sal kan word.”
Ons het
die werke wat God doen, die afgelope paar maande gesien: hoe dié ou seuntjie
die een krisis na die ander oorleef. Hoe die beentjies wat onbruikbaar sou kon
wees, skop. Hoe die mooiste ding denkbaar gebeur: Happiness woel in sy
bababedjie rond, nes enige ander baba. Hy wil begin tande kry: hy eet enigiets,
hy is honger en kos is vir hom so lekker.
Hoe
lief is Happiness se ouers vir hom!
Patricia is dag en nag by hom wanneer hy in die hospitaal is. Snags
slaap sy op ‘n stoel naby hom, nag na nag, en deesdae is die nagte koud in
Bloemfontein.
Twee
van ons neem om die beurt so teen laatmiddag vir Patricia iets om te eet, want
aan ouers wat so by hulle kinders waak, kan die hospitaal nie etes voorsien
nie. O, om die gesigte van ander wakende ouers van ander spina
bifida-pasiëntjies dan te sien... Hoe wens ek dat ons elke middag vir al die
ouers daar kos kon neem!
‘n Ouerpaar voor ‘n keuse
Gister
skok Patricia my uit elke hoekie in my geriefsone.
“Ons
was by die maatskaplike werker gewees,” sê sy. “Happiness needs good food, ahh,
that one he can eat. He eats everything, boiled egg, porridge, milk, 1.5 liter
every night, he finishes it. We asked the social worker: is it possible to
apply for a grant for him? For the
food?”
Grants, het
die maatskaplike werker gesê, is net vir S.A. burgers en hulle afhanklikes. Sonder S.A. burgerskap kan daar nie ‘n
toelae aan Happiness toegestaan word
nie. Sy pa se werkspermit wat telkens
hernu moet word, laat hom nie daarvoor kwalifiseer nie. Daar is een ander opsie: om ‘n S.A. burger te
vind wat Happiness wil aanneem. So sal die ou seuntjie dan vir ‘n toelae in
aanmerking kan kom.
Patricia
het my in die gelatenheid van radeloosheid en wanhoop aangekyk: “I said: if
that is the only way, let us give Happiness up for adoption. He needs good food. But his father wouldn’t. He said no.”
Dit is nie net die ouers se keuse nie
Ons
broer en suster in die Here staan gekonfronteer met die vreeslikste besluit
denkbaar: om hulle geliefde seuntjie aan ander te gee, sodat hy genoeg sal hê
om te eet. Of om hom te hou, en God vir
kos vir hom, vir voorsiening in sy baie behoeftes, te vertrou.
Dit is nie net die ouers se keuse nie, het ek
besef. Wat vorentoe gaan gebeur, is die keuse van baie gelowiges.
Ellende of hulp, ‘n vol of leë plek in hierdie
ouerpaar se huis, radeloosheid of hoop in die gemeenskap, is gewis en seker ook
die keuse van ander Christene.
Patricia,
het ek vir sy ma gesê, Marguerite in ons gemeente het gister die fondasie vir
‘n woonplek vir julle gesinnetjie by ons gemeente se sorg-huise laat begin
gooi. Sy doen dit uit haar eie sak. Julle gaan gratis daar woon; Gibson moet
net instandhoudingswerk op die terrein doen in ruil vir julle verblyf. Ons
ander sal bly gee wat ons het om te gee. Julle sal sien: dag na dag sal die God
vir Wie julle en ons dien, voorsien.
Wat sê God wanneer dit so gaan?
Ek was
steeds geskok nadat Patricia en ek buite voor die hospitaal van mekaar afskeid
geneem het.
Wat sê God wanneer dit so gaan?
Toe
laat die Gees my dink aan wat die HERE deur Jesaja aan die volk Israel gesê het.
Wanneer dit só gaan, sê God:
Uit Jes 49: 13-23:
Jubel, hemel! Juig, aarde! Sing vrolik, berge! Die Here het vir sy
volk uitkoms gegee, Hy het Hom ontferm oor sy volk wat in nood was.
Sion sê: "Die Here het my verlaat, die Here het my vergeet."
Kan 'n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat
sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou
nie vergeet nie. Ek het jou naam in my handpalms gegraveer. Jy is nou nog net
puinhoop en ruïne, 'n verwoeste plek...
So sê die Here God: Ek sal my hand uitstrek na die nasies toe, onder
die volke sal Ek my vaandel opsteek. Dan sal hulle jou seuns op die arm na jou
toe bring, en jou dogters sal op die skouer aangedra word. Dan sal jy besef dat
Ek die Here is; wie op My vertrou, word nie teleurgestel nie.
Sê Hy
dit dan nie ook vir Happiness se ouers nie?
Sê Hy
dit nie ook vir ons, sy uitgebreide volk deur Jesus Christus, nie:
Kan 'n vrou haar eie baba vergeet, haar nie
ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets
kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie. Ek het jou naam in my handpalms
gegraveer... Ek sal my hand uitstrek na die nasies toe, onder die volke sal Ek
my vaandel opsteek. Dan sal jy besef dat Ek die Here is; wie op My vertrou,
word nie teleurgestel nie. — Jes 49: 15-16.
Wat moet ons vir mekaar sê wanneer dit so gaan?
Ek weet dat sommige van julle wat nou luister, ook
swaar trek, dalk net so swaar soos Happiness se ouers. Of byna so swaar.
Die afgelope paar dae het die Here God deur ons
betrokkenheid by die lewe van daardie klein seuntjie en sy Zimbabwiese ouers,
iets onder ons aandag gebring. Julle moet nooit ophou om mekaar in hierdie
moeilike tyd te bemoedig nie, het Hy vir ons gesê. Oor en oor moet julle as
gelowiges dieselfde ding vir mekaar sê:
Ps 103:13,17-18: Soos 'n vader hom ontferm oor sy kinders, so
ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.
Onverganklik is die liefde van die Here vir dié wat Hom dien, sy trou
vir opeenvolgende geslagte, vir dié wat getrou bly aan sy verbond en sy
voorskrifte nakom.
En:
Kan 'n vrou haar eie baba vergeet, haar nie
ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets
kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie. Ek sal my hand uitstrek ... Dan sal jy
besef dat Ek die Here is; wie op My vertrou, word nie teleurgestel nie. — Jes
49: 15-16.
Is jý
ook in ‘n noodsituasie waarin jy ‘n wanhopige skuif oorweeg en een of ander
menslike oplossing probeer vind?
Hier is
‘n stel meervoudige keuse-vrae. Wat is jou besluit?
a. Ek gaan die menslike oplossing probeer;
b. Ek voel dat God my vergeet het; ek gaan Hom nie meer vertrou nie;
c. Ek gaan met God se woorde aan my na Hom toe gaan en vir Hom sê: Here,
U het dit gesê.
d. Ek het moed verloor. Ek gee oor..?
Jou antwoord bepaal waarop alles wat jy nou
deurmaak, gaan uitloop.
Wat bid die geloofsgemeenskap wanneer dit so
gaan?
Ek het
aan ons klein gemeente gedink, aan elkeen wat so graag vir Gibson, Patricia en
Happiness wil help en bystaan. Daar is
min wat in groot huise woon, min wat nie elke sent omdraai nie. Daar is min wat nie die dae na die volgende
pensioendag tel en nie goed by die betaalpunt van die supermark terugsit
nie. Daar is min van ons gemeentelede
wat nie swaar trek in moeilike tye nie.
Wat bid
‘n mens wanneer dinge só lyk? Wat sal jy teen die agtergrond wat pas aan jou
uitgespel is, begin bid? Kom ons maak
dit ‘n veelvoudige keuse-vraag. Dink jy
dit is tyd om te bid:
a) Vader, help Happiness se ouers om burgerskap te kry;
b) Ons Vader wat in die hemel is, doen ‘n wonderwerk vir hulle;
c) Vader, sorg vir hulle;
d) Here, stroop mý van my begeerte om wat ek as myne beskou, te behou;
e) Here, laat hulle tog reg besluit oor aanneming as opsie;
f)
Here, begin by
my?
Die lewe van baie word deur die gebed van
individuele lede van die geloofsgemeenskap geraak.
No comments:
Post a Comment