Monday 17 April 2017

GOEIE VRYDAG


Loretta Lynn het gesê: Nobody’s perfect. The only one that ever was, was crucified.

Die volmaakte mens, Jesus Christus, het op Golota gesterf. Sy sterfdatum was Goeie Vrydag en sy sterwenuur was drie uur in die middag.

Maar dit was nie ‘n gewone sterfte nie. Jesus het nie as gewone mens gesterf nie. Dit was ‘n buitengewone sterfbed. Nie net is mense deur sy sterfte aangeraak nie, maar God het in die natuur ingegryp. Dit was NAG in die middag. Dit was nie ‘n gewone maanverduistering nie. Dit was ‘n bepaalde profesie wat in vervulling gegaan het. Daar staan in die Bybel in Amo 8:9 “En in dié dag, spreek die Here HERE, laat Ek die son op die middag ondergaan en vir die aarde die lig duister word terwyl dit nog dag is.” Dit beteken dat God op die dag sy oordeel oor die sonde in vervulling sal laat gaan.. Die Bybel sê in Isa 13:9: “Kyk, die dag van die HERE kom, verskriklik, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde ‘n woesteny te maak en sy sondaars daaruit te verdelg.” Maw Jesus Christus het onder die oordeel en veroordeling van God gesterf.

Juis daarom kan ons verstaan dat Hy Psalm 22 vers 1 aangehaal het in sy sterwensuur: My God, my God, waarom het U My verlaat?”  Dit is daardie oomblik dat Hy na sy menswees die dieptepunt van Godlike verlatenheid ervaar het. Hy moes op daardie oomblik die profesie wat Johannes die Doper uitgespreek het, ondervind. Johannes die Doper het volgens Joh 1:29 gesê: “Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” Maw Jesus is aan die kruis die Paaslam wat geslag moes word as offer vir die sondes van die ganse mensdom. Ook ons sondes is daar op daardie dag, GOEIE Vrydag, VOOR BETAAL. Daar in God verlatenheid sterf Jesus vir jou en my sonde. Daar moes hy die oordeel, die duisternis, die gramskap en toorn van God vir ons dra. Geeneenv van ons sou dit ooit nie kon doen nie. As ons aan die Goddelike toorn en gramskap blootgestel sou word, sou ons eenvoudig uitgewis word in die vuurgloed van God se onverdunde toorn wat elkeen van ons volledig verdien. waar is ‘n grote  wonder dat Hy vir sondaars gesterf het dat Hy vir vir my en jou sonde gesterf het. Die Bybel sê in Rom 5:8 “ maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” Christus het in ons plek die toorn, die gramskap en veroordeling van God op ons geneem en ons daarvan gespaar.  Daarom kan ons hom loof en prys!

Maar watter voorbeeld stel Jesus aan ons in sy sterwensoomblik?

In daardie laaste oomblik van sy lewe roep Hy Hemelwaarts. Hy gebruik woorde van Siries-Chaldeese afkoms: “Eli, Eli, lama sabagtáni” Maw  Jesus roep na sy mensheid:My God my God waarom het U my verlaat? Die uitroep is ‘n uitdrukking van intense lyding, want die oordeel van God rus op hom. Maar sal ons ook soos Jesus in ons stewensuur na God roep? Deur na God in sy laaste oomblikke te roep verklaar hy ook onder die oordeel van God nogtans sy aktiewe verbondenheid met God, verklaar hy ook onder die oordeel van God nogtans sy vertroue en sy geloof in God.

JESUS SE VERLATENHEID VOORSPEL.

Hierdie gebeurtenis dat Jesus Christus God verlate was, was nie ‘n gebeurtenis net van daardie oomblik nie. Hiedie ontsettende gebeurtenis is al in die Ou Testament voorspel. Jesus Christus se alleenheid is voorspel in Jes 53:7. Daar staan geskrywe: “ Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was,” en  in Jes 53:10 staan daar geskrywe: “Maar dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel; Hy het Hom krank gemaak; as sy siel ‘n skuldoffer aangebied het, sal Hy ‘n nakroos sien; Hy sal die dae verleng, en die welbehae van die HERE sal deur sy hand voorspoedig wees. Isa 53:11  Weens die moeitevolle lyde van sy siel sal Hy dit sien en versadig word; deur sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak; en Hy sal hulle skuld dra.”  Dit beteken dat Jesus Christus as dienskneg, in onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan sy Vade, in alleenheid sal ly ter wille van ons.

Hy moes die pad loop sodat Hy die lyding van die straf van God namens ons moes dra.

Die Bybel sê in Isa 53:4  Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word. Isa 53:5  Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.

Hy moes die pad loop sodat Hy ons van die vloek van die wet konlosgekoop. Die Bybel sê in Gal 3:13  Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek 'n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: "Vervloek is elkeen wat aan 'n hout opgehang is." Gal 3:14  Daardeur kan ook hulle wat nie Jode is nie, deur Christus Jesus deel kry aan die seën wat God aan Abraham toegesê het. So het ons dan deur die geloof die Gees ontvang wat God beloof het.

Hy moes die pad loop sodat Hy ONS sonde-offer moes wees. Die Bybel sê in 2Co 5:21  Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.

Hy moes die pad loop sodat ons geregverdig (vrygespreek van skuld)voor God sou wees. Die Bybel sê in Rom 4:25  Hy is oorgelewer is ter wille van ons misdade en opgewek is ter wille van ons regverdigmaking. Hy het gesterf, Hy het gely, Hy was gehoorsaam, Hiervoor het Hy gekom, sodat ons kan lewe. Sodat die straf wat ons verdien, ons nie sal tref nie. Sodat God nie die doodsvonnis oor ons sal uitspreek en ons vir altyd uit sy teenwoordigheid sal ban nie.

Maar hoe reageer ons op Jesus se sterwe?

Noudat ons uit die Bybel verneem het dat Jesus Christus alleen ons sonde aan die kruishout gedra en ter wille van ons gesterf het, hoe gaan ons reageer teenoor ons Verlosser?

 Is dit nie nou die tyd om innig dankbaar te wees teenoor God omdat Jesus Christus in sy alleenheid vir my en jou sonde gesterf het nie? Die Bybel sê in 1Th 5:18: “Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.” 

Die Bybel verwys hier na verlossingsdankbaarheid, na ‘n dankbaarheid oor veel, veel meer as aardse dinge en God se sorg in ons moeilike aardse omstandighede.  Die dankbaarheid wat ons op Goeie Vrydag mag en moet ervaar, is dankbaarheid oor God se oorweldigende, onbegryplike, onverdiende, ongevraagde liefde en genade. Die dankbaarheid van Goeie Vrydag oorspan alle lyding, alle swaarkry, elke aardse behoefte en onsekerheid.

Die Bybel sê in 2Co 4:7: “Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie. 2Co 4:8  In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; 2Co 4:9  vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie.”  Ons het die skat van die Evangelie. Deur wat Jesus gedoen het, is ons met God versoen. Jesus se kruisdood ter wille van jou en my is ons waarborg van ‘n liefde, ‘n genade, ‘n ontferming wat geen mens op aarde vir ons kan gee nie. in die sekerheid van hierdie Goddelike liefde leef ons soos in ‘n persoonlike skuilplek. in die sekerheid van hierdie genade en ontferming kan ons dan ook deur die krag van die Heilige Gees onder moeilike omstandighede dankbaar bly.

En hoe moet ons dankbaar wees?

Getuig van die skat van die Evangelie. Getuig van Jesus Christus wat alleen vir ons sonde gesterf het. Getuig van ons vergifnis van sonde wat ons deur die kruisdood van Jesus ontvang het.

One of the most evident signs of genuine godliness is a sincere display of appreciation towards your heavenly Father.- Patricia Ennis

Dit is Goeie Vrydag.  Die genade van God die Vader, wat sy Seun gegee het sodat ons kan leef, die liefde van Jesus Christus, die Lam van God wat die sonde van die wêreld weggeneem het en die innige nabyheid van die Heilige Gees, wat ons in die waarheid lei, is by jou en my.

Hoe goed is hierdie dag met sy bittere herinneringe aan Golgotha nie.

Hoe lig is hierdie dag met sy herinneringe aan die diep duisternis oor Golgotha nie.

Dit is Goeie Vrydag vir elkeen wat sê: My Here en my God!

No comments:

Post a Comment