Tuesday 11 April 2017

ANGS


“Our anxiety does not empty tomorrow of its sorrows, but only empties today of its strengths.”
Charles Haddon Spurgeon

Wat Spurgeon sê is dat Angs  niks aan môre se vrese verander nie, maar dit maak ons vandag kragteloos. Dit is die gevolge van van angs.

Wat presies is angs? Die HAT Woordeboek se definisie van angs is: Gevoel van vrees, benoudheid, onsekerheid en onveiligheid. Ons weet wat angs is: ons ervaar dit moontlik daagliks. As ons vandag huiswaarts keer, weet ons nie wie of wat  wag ons in nie. Ons vrees ‘n moontlike plaasaanval, ons vrees ‘n huisinbraak, ons vrees die uitslag van ‘n ernstige siekte, ons vrees die ouderdom met al sy kwale, ons vrees die dood. Die lewe en sy finansiële probleme het net te veel geword, daarom is ons oneindig angstig. Omdat ons angstig is voel ons onveilig, onseker, en benoud. Soms voel ons ons bors trek toe van benoudheid omdat ons angstig is. Moontlik kan ons ons dié eeu die eeu van angs noem.

Angs is ‘n gevoel wat ‘n mens oorweldig. Jy kan nie nugter dink nie, jy kan nie jou werk behore doen nie, jy wil net wegvlug, maar weet nie eens waarheen nie. Maar angs is nie net hier nie, maar gans die hele wêreld is aan die beweeg in angs. Die Zimbabwiers vlug na SA weens hulle lewensangs om ‘n bestaan te maak. In Sirie is daar oorlogsangs. Vlugtelinge strome na Europa.

Maar angs is nie net tot vandag beperk nie. Dit was selfs in die Bybel se tyd aanwesig. Angs is so deel van lyding. Angs is so deel van die Lydenstyd van Jesus Christus waarin ons nou is.

Selfs Jesus Christus was voor sy kruisiging met die diepste angs denkbaar vervul. Drie keer het Hy vir sy dissipels gesê dat Hy Jerusalem toe gaan om daar te gaan sterf.

Kort ná Jesus se intog in Jerusalem op ‘n donkie se rug was Hy in ontsettende angs, in ontsteltenis.  Wanneer ons as mense beangs is, roep ons uit: Here, verlos my tog hieruit!  Jesus het geweet wat vir Hom voorlê: dat Hy die straf van God vir die sonde van biljoene sondaars sou moes verduur.  Geen angs wat enigeen van ons ooit sal beleef, kan ooit wees soos Jesus se angs waarvan ons in Joh 12: 23, 24, 27-28 lees nie:

Daarop sê Jesus vir hulle: "Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word. Dít verseker Ek julle: As 'n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy 'n groot oes in.

Joh 12:27-28:  Nou is Ek diep ontsteld. En wat moet Ek sê? Moet Ek sê: Vader, red My uit hierdie uur? Maar juis hiervoor het Ek gekom, vir hierdie uur. Vader, verheerlik u Naam!" Toe het daar 'n stem uit die hemel gekom: "Ek het my Naam verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik."

In daardie oomblikke het Jesus ons angs op Hom geneem.

In daardie oomblikke het Jesus elke sondaar se doodsangs oor die oordeel van God gedra.  Hy het biljoene sondaars se angs oor Godverlatenheid, oor God se straf, oor God se toorn, in sy denke, emosies, gees, siel en liggaam verduur.

 En dan was daar Jesus se angs in Getsemane.

Die Bybel sê in Mat 26:37: 

En Hy neem Petrus en die twee seuns van Sebedéüs saam. Toe het Hy bedroef en beangs geword. Mat 26:38: “Toe sê Hy vir hulle: Ek voel doodsbenoud; bly hier en waak saam met My.”

Jesus Christus het geweet die dood wag op Hom. Hy het sy dood voorspel met die woorde in Mat 26:2: “Julle weet dat oor twee dae die pasga kom, dan word die Seun van die mens oorgelewer om gekruisig te word.” Jesus Christus het geweet dat die dood vir Hom binnekort ‘n voldonge feit is.

Hy het van sy kruisdood wat wag geweet. Hy was alwetend, want Hy was ook God. En die Bybel bevestig dit in Johannes 10 vers 30 met die woorde: “Ek en die Vader is een.” Hy het selfs die uur en die datum van sy kruisging geweet, weens sy alwetenheid. Maar nogtans het hy na sy mensheid daarmee geworstel.

Daar in Gesemane het Jesus met sy gesig teen die grond gebid: in Mat 26:39  staan daar: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.”

hierdie worteling met die dood was met angs belaai, want die Bybel sê in Luk 22:44 : “En toe Hy in ‘n sware stryd kom, het Hy met groter inspanning gebid, en sy sweet het geword soos bloeddruppels wat op die grond val.” Sy angs was intens, sy benoudheid enorm groot.  En dit was deel van sy lyding as Lam van God wat die sonde van die wêreld moes wegneem.

As jy in diepe angs is, wil jy dit met iemand deel.

Jy vergaan sonder menslike empatie, iemand wat luister, iemand wat sy/haar arms om jou plaas, vir jou bid of vir jou sê dat hy/sy by jou staan.

Mense het mense in hulle angs nodig.

Jesus Christus was waarlik Mens, en het mense nodig gehad wat volhardend by Hom staan.

Maar: 

Terwyl hy geworstel het met sy komende dood, in sy oomblikke van intense angs, het niemand in Getsemane hom bygestaan nie. Hy moes daar alleen deur sy angs worstel, want sy dissipels het aan die slaap geval. Hulle het nie lank en volhardend vir Hom ingetree nie.

 Die Bybel sê in Mat 26:40: “ En Hy kom by die dissipels en vind hulle aan die slaap, en Hy sê vir Petrus: So was julle dan nie in staat om een uur saam met My te bid nie? “

Wat Hy so bitterlik nodig gehad het, het ontbreek.

Menslik gesproke veroorsaak die afwesigheid van menslike ondersteuning en kontak in oomblike van angstigheid ‘n  verskerping van die gevoel van onveiligheid. Die rede vir die intense onveiligheid is omdat ‘n mens stoksiel alleen aan jou self en aan jou omstandighede uitgelewer is. Dan oorweldig hulpeloosheid, magteloosheid en somberte ‘n mens.

Maar om tot Jesus se Lyding terug te keer. Hy het vir ‘n tweede keer gaan worstel in die gebed oor die dood. Die Bybel sê in Mat 26:42:Weer het Hy vir die tweede maal gaan bid en gesê: My Vader, as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied.”

Hoe kan ons ooit probeer om Jesus se beker van lyding te begryp of te beskryf?

Ons weet wat persoonlike angs is. Maar Jesus se lydeningsbeker wat Hy moes drink was God se toorn en straf, die doodsvonnis vir die ganse mensdom se sonde. Dit was die mensdom se sonde van die verlede, die sonde van die hede, maar ook die sonde wat gepleeg sal word.

Jesus se lydingsangs val buite ons ervaringswêreld. Om biljoene mense se angs te dra... Ons kan nie eens ons eie persoonlike angs na behore dra nie wat dan nog van ander mense sin. Tog het Jesus die angs van die mensdom van alle tye gedra.

Hy bid om die verlossing van die lydensbeker, maar vra dat die wil van die Vader sal geskied. En die wil van die Vader is dat Jesus moes voortgaan om in ons plek die sonde angs tot die einde te dra.  En dat Hy dan as Offerlam vir ons moes sterf.

Die Bybel sê in Rom 5:8: “ God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.”

Terug na Getsemane.. Die Bybel sê in Mat 26:44: “Jesus het sy dissipels met rus gelaat en weer vir die derde maal gaan bid en dieselfde woorde gesê.”

Sy dissipels het voortgeslaap.  Jesus was alleen, alleen,


Maar watter kontras was die slaap van die dissipels nie met die van die vrou wat ‘n paar uur tevore kosbare reukolie op Jesus se kop uitgegiet het nie.

Mat 26:6-13  Terwyl Jesus in Betanië in die huis van Simon die melaatse aan tafel was, het 'n vrou by Jesus gekom met 'n albaste fles baie kosbare reukolie en dit op sy kop uitgegiet.  Toe die dissipels dit sien, was hulle verontwaardig. "Waarom so 'n verkwisting?" vra hulle.   "'n Mens kon die reukolie vir baie geld verkoop het en dit vir armes gegee het."

Jesus het dit gemerk en vir hulle gesê: "Waarom maak julle dit vir die vrou moeilik? Sy het 'n goeie daad aan My gedoen. Die armes het julle altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie.  Deur hierdie reukolie op my liggaam uit te giet, het sy My voorberei vir my begrafnis.   Dit verseker Ek julle: Oral waar hierdie evangelie in die hele wêreld verkondig word, sal daar ook vertel word wat sy gedoen het, tot 'n herinnering aan haar."

 

 

‘n Onbekende vrou het Jesus aangeraak en bygestaan in die tyd van diepe nood, onrus en doodsangs. Sy was daar vir Jesus Christus. Maar later kon sy volgelinge, sy dissipels nie eens een uur saam met Jesus waak en bid nie.

 

Wat doen die sagte aanraking van ‘n medemens nie vir jou wanneer jy van angs en benoudheid kan sterf nie: voor ‘n operasie, op ‘n ongelukstoneel, terwyl jy in onsekerheid op ‘n tyding wag...

 

Watter wonderlike vertroosting het die vrou nie vir Jesus Christus gebring nie. In Getsemane sou Hy alleen wees, maar hier, ure voor Getsemane,  staan ‘n vrou langs hom om hom te salf met die kosbaartse reukolie.

 

In oomblikke van angs is menslike aanraking en bystand soos olie op ‘n mens se emosionele angswond. Die ondersteuning maak die lyding en onveiligheid draagliker.

 

Leo Buscaglia het gesê: “Too often we underestimate the power of a touch, a smile, a kind word, a listening ear, an honest compliment, or the smallest act of caring, all of which have the potential to turn a life around.”

 

 

Het jy al ooit aan Jesus Christus as die Draer van al jou angs gedink?

Het jy al ooit ingesien dat Hy die draer van jou doodsangs was?

 

Moontlik voel jy vandag, of gereeld, indien jy aan ‘n angsversteuring ly, soos Psalm 55 vers 6 sê:

 

” Vrees en bewing kom oor my, en angs oordek my.”

 

Angs is deel van ons gebrokenheid, angs kan die gevolg van sondeskuld wees. Of die gevolg van faktore buite ons beheer.  Dit kan saamhang met toestande wat die dokters kan diagnoseer. Hoe dit ook al sy:  dit is verskriklik om in angs te leef, om jou dae en nagte in doodsbenoudheid deur te worstel.

 

Wat moet ons doen as angs ons oorval?

 Die Bybel sê in Heb 4:16: “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.” 

 

Die Bybel nooi ons uit om met God spesifiek en reguit en sonder terughouding oor ons angs te praat. En hoe nodig het ons nie vir God in ons tyd van onveiligheid nie.  Kom ons benut die geleentheid ten volle om met God te praat. Kom ons vertel vir God in detail waarom ons so angstig is. Ons hoef nie beangs te wees om met God hieroor te praat nie. Jesus Christus weet presies, ja, Hy weet beter as wat ons ons ooit kan indink, hoe angs voel.

 

Hoe lief het Hy jou nie, beangste, ontstelde mens!

Die Bybel sê in 1Jn 4:16: “ En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.”

 

Daar bestaan geen rede waarom ons moet huiwer om met God oor ons angs te praat nie. 

 

Trouens, God nooi ons in sy Woord verder uit om na Hom te kom met al die onrus in ons gemoed.  Filippense 4:6 : “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.”  En in  

Glo jy dat Hy wat jou nooi, vir jou iets wil doen?

Dat Hy jou wil help, wil deurhelp?

Natuurlik wil en sal Hy!  Hieroor skryf Dawid: Ps 131:2  Ek het rus en kalmte gevind. Soos 'n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind.

 

 

Maar daar is nog ‘n baie belangrike aangeleentheid wat ons aandag verg en dit sê die Bybel in Gal 6:2Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.”

 

Ons is geroep om ander te help om hulle angs las te dra. Ons word geroep om mekaar by te  staan met bemoedigende woorde en hulpverlenende bystand. ‘n Noodoproep van bure vra dat ons hulp verleen, ‘n egte noodversoek vra ons daadwerklike optrede, ‘n noodgesprek vra ons aandagtige en empatiese aanhoor daarvan, ‘n angs opmerking vra dat ons dit sal beantwoord, sonder twyfel en aarseling moet ons met ander saambid oor hulle nood.

 

Die Bybel sê dat ons mekaar moed moet inpraat, en dat dit wat ons vir mekaar sê, Godsvertroue as basis moet hê.

 

1Tess 5:11:  Daarom, bemoedig mekaar en bou die een die ander op, soos julle ook doen.”

 

 Hierdie moed inpraat beteken dat ons nie met ‘n toemaar en alles sal regkom ons medegelowiges versterk in hulle angstoestand nie. Maar dit beteken dat ons mekaar met die woorde van die Bybel sal bemoedig. Al ken ons nie Bybeltekste uit ons kop nie, kan ons God se beloftes  waarvan Hy nie een sal verbreek nie, uit die Bybel vir mekaar voorlees. As ons mekaar met die Bybel bemoedig dan kom troos God deur Jesus Christus ons, want daar staan in die Bybel die volgende in 2 Tess 2:16-17:   En mag onse Here Jesus Christus self en onse God en Vader, wat ons liefgehad het en ‘n ewige troos en goeie hoop in genade gegee het, julle harte vertroos en julle versterk in alle goeie woorde en werke!

 

 

Ten slotte Jesus Christus het vir ons sonde intense angs belewe.

Maar meer nog Hy het gely, gesterwe en is opgewek uit die dood.

Nou is dit tyd dat ons net een passie moet hê,  en dit is vir Hom

Nou is dit tyd dat ons net een liefde moet hê, en dit is vir Hom

Nou is dit tyd dat ons met oorgawe vir Hom sal lewe.

Hertog Zinzendorf het gesê: I have one passion. It is He, only He.

Is Hy wat jou angs en jou sonde kom dra en wegneem het, die Christus van jou onverdeelde trou en liefde?

No comments:

Post a Comment