Monday 19 February 2018

GELOOF EN HOSPITAALSORG


GELOOF EN HOSPITAALSORG.

Sommige gelowiges beweer dat ‘n “sterk” geloof genesend is. Maw jy moet net reg glo dan sal jy gesond word. Dit beteken dat die sogenaamde regte geloof ‘n geneesmiddel is. Die vraag is: waarom is die mediese wetenskap nodig as geloof wel ‘n geneesmiddel is?  As die stelling waar is, waarom antibiotika neem, bestraling kry en ander middele en prosedures ondergaan om gesond te word?

Die negatiewe gevolg van die stelling dat geloof ‘n geneesmiddel is, is wanneeer die pasiënt nie gesond word nadat die stelling aan hom of haar bedien is nie. Die gelowige wie se geloof nie sy gesondmaking bewerkstellig het nie sit met skuldgevoelens. Hy of sy dink: ek is ‘n swak gelowige, want God beskou my geloof nie voldoende om te beantwoord nie. Hulle mag moontlik dink dat God hulle verwerp, omdat hulle geloof te kort skiet. Genoemde stelling, kan gelowiges in ‘n geloofkrisis plaas indien hulle nie gesond word nie. Maar ook op ‘n intra persoonlike vlak, afhangende van die luisteraar aan  wie die stelling dat geloof genesend is, gemaak is, bestaan die moontlikheid dat die betrokke persoon se neurotiese en dwang obsessies versterk kan word. Maw dit kan moontlik negatiewe sielkundige gevolge hê.

Sonder om verder hieroor te argumenteer, behoort ons te vra: wat sê die Bybel wat geloof is?

Voor ons die vraag kan beantwoord, behoort ons te vra: waar kom geloof vandaan? Wie is die oorsaak van geloof?

Die Bybel sê in Efes 2:8  “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God’ en Efes 2:9  “nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.” Dit beteken dat God geloof skenk, want dit is ‘n gawe van Hom. Maw: God is die oorsaak dat ons glo. Dit bevestig Fritz Rienecker in sy kommentaar op die brief van Efesiërs naamlik “ Der Glaube ist die Hand des Bettlers… So ist es auch mit dem “Glauben”. Er ist eine Tat Gottes….”  Der Brief an die Epheser, p. 85 en 86.  Dit beteken dat geloof ‘n geskenk van God is. Maw as ons glo, is dit God wat dit in ons bewerkstellig. Simbolies gestel kom dit daarop neer dat geloof soos ‘n geut is wat die reenwater opvang en ontvang wat van Bo kom. Die geut herlei die water na ‘n tenk waarin dit gestoor word. So is dit met geloof; dit word binne in ons deur die Heilge Gees ingelei, sodat ons kan glo. Op die manier word ons bewus dat ons gered is. Ons moet die geloof wat ons van die Heilige Gees ontvang toe-ein en ons eie maak. Geloof wat God deur sy Heilige Gees in ons gewerk het, is bepalend vir ons verhouding met Hom. Dit besvestig Johannes 1 vers 12: “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;” Maw geloof is reseptief en nie kreatief nie. Geloof is die ontvangsmiddel waardeur ons van redding bewus word.

As geloof kreatief sou wees, sou die Ou Testamentiese gelowige nie die volgende gebid het in Psa 30:3  : HERE, my God, ek het U aangeroep om hulp, en U het my gesond gemaak,” nie. Dit beteken dat geloof my in die regte verhouding met God stel, daarom kan ek bid om genesing. En ek bid tot God wat my kan genees as dit sy wil is, en nie my geloof wat my genees nie.

Maar waaruit bestaan geloof? Hoe moet ons geloof prakties verstaan?  Die Bybel sê, en die Heildelberg Kategismus beaam dit, naamlik 2 bestandele. Die twee bestandele is kennis en vertroue. Die Bybel sê in Rom 10:17  “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.” Dit beteken dat geloof uit die kennis van die Bybel bestaan. In die Bybel openbaar God hom oa as die skenker van geloof. En die tweede bestandeel is vertroue. Die Bybel sê in Heb 11:1 “ Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” Maw ons vertrou die Woord as waar, en komende van God. Ons hoop is op die onsigbare gerig volgens die Bybel. Ons omhels die onsigbare wete dat God deur sy Gees die geloof in ons werk, en as dit sy wil is, sal Hy ons kan genees.

Ons glo aan Goddelike genesing en nie geloofgenesing nie. God genees en nie geloof nie. Maw geloof vestig ons aandag op die feit dat dit God is wat genees dmv sy woord en sy Gees.

By ENGO trag die Hospitaalspan om pasiënte in nood met liefde en sagtheid Bybels te begelei. Daar word gepoog om pasiënte gemaklik te laat voel met hulle geloofslewe, al nagelang van die behoeftes van pasiënt tot pasiënt.  Asook om pasiënte te verseker dat God ‘n liefdevolle vader is wat hulle nood raaksien, en dat Hy prakties daarop reageer. 

 

                   

No comments:

Post a Comment