Tuesday 6 February 2018

GEBED EN HOSPITAALSORG


GEBED EN HOSPITAALSORG.

GEBED

Wanneer ons oor gebed praat, daaroor dink of Bybelstudie oor gebed, doen, vra ons gewoonlik: wat sal ons bid, of waarom en waarvoor moet ons bid? want die Bybel sê in Mat 7:7  “Bid, en vir julle sal gegee word;” Maar al bid ons aanhoudend, word ons gebede somtyds nie verhoor nie. Waar lê die probleem? Om die vraag te beantwoord behoort ons ‘n wedervraag  te vra: tot wie bid ons? Tot wie rig ons die gebed? In die Bybel gedeelte hierbo genoem, sê Jesus Christus dat ons behoort te bid. As Jesus Christus ons uitnooi om te bid, waarom word ons gebede nie altyd verhoor nie? Die antwoord op hierdie vraag na onverhoorde gebede is die Persoon tot wie ons bid. Ons bid tot God deur Jesus Christus. Wie is Jesus Christus? die Bybel sê in  Joh 10:30 “ Ek en die Vader is een.” Jesus Christus is God. Dus as ons bid rig ons alle versoek na God deur Christus Jesus.

God is ons vader, want die Bybel sê in Joh 6:46  “Nie dat iemand die Vader gesien het nie, behalwe Hy wat van God kom: Hy het die Vader gesien.” Om God die vader te noem, is ‘n antropomorfisme. Dit beteken dat die begrip Vader wat vir God gebruik word, is ‘n menslike uitspraak om oa God op menslike wyse te verstaan. Dus die Bybel gebruik die begrip, Vader, ook op die wyse. Dus kan ons na analogie van  ‘n aardse vader wat sy vaderskap gestand doen, weet hy luister as sy kind met hom praat: hoeveel te meer dan ons Hemelse Vader. Ons hoef nie te twyfel of God na ons luister nie, want die Bybel sê in 1Jn 4:8  “God is liefde.”  ‘n Liefdevolle vader luister inderdaad na sy kind as hy met hom praat.

Maar net soos ‘n aardse vader nie altyd vir sy kind gee wat hy vra nie, net so is God wat die reg het om sy kinders se versoeke volgens sy wil te hanteer. Dit beteken dat Hy gee volgens sy wil asook wat die beste vir sy kind is.  Dit kom daarop neer dat God nie altyd vir sy kind gee wat hy vra nie.

Op Teologiese Fakulteit het ons die Boek Job bespreek. En een van die eienskappe van God wat ons ontdek het, is dat Hy vrymagtig is. Maw Hy kan besluit soos Hy wil en sy besluit hoef nie noodwendig ons besluit te wees nie. Die Bybel sê in Job 2:10 “ Maar hy antwoord haar: Soos ‘n dwaas praat, praat jy! Die goeie sou ons van God aanneem, en nie ook die slegte aanneem nie?” Ons kan bid soos ons wil, ons kan gebedskettings vorm soos ons wil, maar die uiteindelike atwoord lê by God. Dit is dus nie ons wense, begeertes of verlangens wat altyd beantwoord sal word soos ons dit verlang nie.

Die vraag is, is gebed wel relevant as God vrymagtig optree? Transendeer die objektiewe nie die subjektiewe in die geval mbt gebed nie? Mag ons steeds biddend vra? Ja, want die uitnodiging bly dat ons moet bid, want die Bybel vra dit van ons. Ons moet met God kommunikeer en nie in ‘n stilstuipe verval nie. Kinders praat met hulle Vader, want dit is vanpas en noodsaaklik. God het ons nie nodig nie, maar ons wel, daarom mag en behoort ons ons diepste gevoelens aan Hom bekend maak. Menslike gesproke is gesprek tussen ‘n Vader en sy kinders van uiterste belang vir ‘n gesonde verhouding. Net so is dit wanneer dit kom by die verhouding wat ons met God het. Ons kan nie aanspraak maak op ‘n verhouding met God as daar nie ‘n gebedsgesprek is nie. Die Bybel sê in 1Jn 5:20, volgens die Good News Bible:  “ We live in union with the true God---in union with his Son Jesus Christ.” Ons lewe in eenheid met Christus. Daarom is gebed ‘n leefwyse. 

HOSPITAALSORG

 By die siekbed mag die dinamiese omstandighede nie uit die oog verloor word nie. ‘n Besoek aan elke siekbed is anders, want die uniekheid van die pasiënt verskil van persoon tot persoon.  ‘n Empatiese benadering is nodig. Ons is bemagtig met die Bybelkennis ivm met gebed, maar is ‘n siekbed ‘n preekstoel, Bybelstudie en ‘n voorligtingsessie? Nee, in die Bed van ‘n Hospitaal lê ‘n persoon en worstel met sy persoonlike siekte. Om praktiese voorbeelde te noem: By een van die beddens  sê ‘n pasiënt wat uitgeteer is deur kanker dat die dokters vir hom net ‘n jaar kans gee om te lewe. Maar as gelowige glo hy aan die wil van God. Hy bly biddend afhanlik van God met die wete dat God se wil sal geskied. Ek be-aam die man se geloofs uitspraak en sê dat ek die hoogste waardering daarvoor het. Ek voel bewoë oor die persoon se  aanvaarding van sy situasie. Magteloos staan ‘n mens en kyk na die aftakeling van kanker, maar met die wete: God is al een wat almagtig is.  By ‘n ander Hospitaalbed vertel ‘n persoon dat hy in ‘n rooftog gewond is. Onder die operasie het die sjirurg sy dunderm raak gesny. Nou sit hy met 2 sakkies wat sy ingewande funksies moet hanteer. Hy is moedeloos, maar ‘n miljoen mense gaan vir hom bid vir genesing. My antwoord was: ek is bly dat jy versterking kry uit die wete dat soveel mense vir jou gaan bid. Die wete van gebedsondersteuning beteken dat jy nuwe krag kry as jy deur donker dieptes gaan. Voel jy dat al die gebede jou gaan genees?

Twee persone, twee gelowiges en twee sienswyses.

Hierdie is slegs twee voorbeelde van talle ander dinamiese omstandighede by Hospitaalbeddens. Wat ‘n voorreg om mense in nood by te staan as knegte van die Allerhoogste God deur Jesus Christus.

Die Hospitaalspan van ENGO is ‘n toegewyde groep gelowiges om ander persone in nood by te staan. ENGO bied so ‘n diens aan die Hospitale in Bloemfontein. AAN GOD AL DIE EER!

No comments:

Post a Comment