Saturday 13 August 2016

BRING DIE TOGA TERUG.


BRING DIE TOGA TERUG. Ons behoort na die Regsgeleerdes te kyk om wysheid te bekom. As adv. Gerrie Nel of Adv. Barry Roux in die hof optree, het hulle hulle toga’s aan. Die toga’s word nie net om tradisionele redes gedra nie, maar herinner hulle dat hulle in diens staan van die geregtigheidsbeginsel. Dit plaas hulle net in ‘n klas van hulle eie aard. Dit is tyd dat die Kerk weer besin oor die Predikante en hulle toga-drag. Ons is nie so verhewe of sakraal dat ons nie van ander beroepe kan leer nie. Die argument ten gunste van die toga is: as ‘n Predikant sy toga aantrek behoort dit hom of haar daaraan te herinner dat hy of sy in diens van die Woord staan. Die toga is gewone materiaal, en is nie ‘n heilige kleed nie. Dit is nodig dat as ons telkemale die toga aantrek dat ons herinner sal word dat ons besig is met ons eie aard as predikant naamlik Woord-bedienaars. Regsgeleerdes vertolk die wet, al is dit hoe gebrekkig opgestel, en deur die Parlement goedgekeur, om daaruit hulle beredeneringe te doen. Hulle ignoreer nie die wet nie al verskil hulle oor die inhoud daarvan. In die ou-bedeling moes regsgeleerdes soos adv. Percy Jutar in die Rivonia-saak die wet oor hoogverraad namens die Staat vertolk al het hy moontlik nie daarmee saamgestem nie. Ons, Predikante, se probleem is ons is te slim. Ons hou ons nie by die Woord nie. Ons is baie kere narre en dan swak narre daarby. As ons nie impuls kontrole toepas nie raak ons banaal op die kansel. Die vraag is, is dit nie tyd dat ons die toga terugbring nie?  Is dit nie tyd dat ons weereens herinner behoort te word dat ons met die WOORD besig is nie?   

No comments:

Post a Comment