Wednesday 28 September 2016

MARETHA SE DANKWOORD OOR OTTO SE BEGRAFNIS.

Net dankbaarheid vandag on my mind. Dankie, liewe FB vriende/vriendinne vir al die gebede wat in hierdie tyd vir Danila en ons drie Liebenberg-kleindogters opgegaan het. Elkeen van daardie gebede het by die Allerhoogste God uitgekom en is verhoor. Op die dag van Otto se begrafnis het die Here vir elkeen van hulle alles en almal voorsien wat hulle nodig gehad het. Sy grootste geskenk is die sekerheid in ons almal hier dat Christus die lewe hier en anderkant die dood is.
Die g...erespekteerde professor onder wie se toesig en strenge mentorskap ek aan die Toeligtingsbybel in Afrikaans werk, stuur eergister vir my dié boodskap uit Paulus se brief aan die Korintiërs: As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, is ons die ellendigste van alle mense. Ook hy het Vrydag 'n kosbare familielid aan die dood verloor, Maandag nog iemand in sy familiekring.
Ellende, herontdek 'n mens inderdaad in tye soos dié, is om slegs te hoop dat die Here dinge hierlangs (verkieslik baie gou) sal regmaak. Dat verlossing uit swaarkry iets soos 'n skeppingswoord oor ons aardse bestaan sal wees: Laat daar lig wees, en daar was lig. Die sieke staan op van sy siekbed af, vir almal is dit business as usual.
Dankie, Prof, vir die waarheid uit die Woord van die Waarheid. Vir niemand in Otto se hele familiekring is dit business as usual nie. Maar vanoggend kyk en en Hennie verbaas na die splinternuwe lewe wat verlede nag ontspruit het uit die stam van die suurlemoenboompie wat Otto en Danila in Junie vir ons as suurlemoenfanatici gegee het.
So broos, so klein is die blaartjies, so onverwags.
Nog iets wat die God wat waak oor wat Syne is, voorsien het.
Daar is lig uit die hemelruim/hemel op die blaartjies van nuwe groei

Maretha Maartens

No comments:

Post a Comment